Altesame 19 bloekombome het gevrek nadat dit vergiftig is.
Altesame 19 bloekombome het gevrek nadat dit vergiftig is. Credit: Esmé Erasmus

Die 19 historiese bloekombome op ‘n stuk grond langs rugbyvelde van die Laerskool Durbanville, wat in Mei begin vrek het, is inderdaad kwaadwillig vergiftig, het die Stad Kaapstad bevestig (“Bloekombome vergiftig”, TygerBurger, 4 Junie).

Volgens die Stad se department van parke en ontspanning is neerslag van onkruiddoder by die bome gevind. “Die departement het sy interne ondersoek afgesluit en die saak vir verdere ondersoek aan die polisie oorhandig,” het die departement op navrae deur TygerBurger gesê.

Die vergiftiging van die bome het die gemeenskap van Durbanville in skok gelaat. Gate is in elke boomstam geboor en gif is blykbaar in dié gate gegooi. Meer as een gat is in van die groter, ouer bome geboor. Dit stem ooreen met die metode wat gebruik is toe nege bloekombome in Renbaanweg langs landbougrond in 2019 met ‘n onkruiddoder vergiftig is.

Glifosaat is gebruik

In ‘n onafhanklike verslag wat deur Hearshaw and Kinnes Analytical Laboratory saamgestel is en aan TygerBurger verskaf is, blyk dit dat neerslag met die aktiewe bestanddeel glifosaat in die bome gevind is – ‘n bestanddeel wat in breëspektrum onkruiddoders soos Roundup voorkom.

Anelisiwe Manyana, ‘n mediawoordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het bevestig ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging word deur die Durbanville-polisie ondersoek. Die ondersoek volg nadat ‘n inwoner die Stad in Mei ingelig het dat die bome vrek en vermoedelik vergiftig is. Mense met inligting word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te bel.

Die bome groei op grond wat die Stad sedert 2022 vir ‘n tienjaartydperk aan die skool verhuur. Die grond bestaan uit twee erwe, Erf 1980-RE, wat vir ‘n openbare pad gesoneer is, en Erf 1971, wat vir ‘n openbare oop ruimte gesoneer is en waarop ‘n stormwater-retensiedam geleë is, soos TygerBurger vroeër berig het. Die stuk grond word hoofsaaklik vir parkering tydens sportbyeenkomste en vir ouers wat hul kinders by die skool kom op- en aflaai, gebruik.

Historiese boomlaning

Die stuk grond van 5 000m² is deel van die totale gehuurde stuk grond van 16 770m², waarop die skool se twee rugbyvelde (Erf 1876) geleë is.

Dit is hoofsaaklik die bome op Erf 1980-RE (onbeboude deel van Aristeaweg) wat vergiftig is. Die ry geelhoutbome langs Durbanville-rylaan, asook die enkele bloekombome op Erf 1971, is nie vergiftig nie.

Die vergiftigde bome was moontlik deel van die oorspronklike historiese bloekomboomlaning langs Durbanville-rylaan – langs die ou wa-roete vanaf Durbanville na Bellville.

Doep Muller, die voorsitter van die skool se beheerliggaam, het in Junie aan TygerBurger sy kommer oor die vergiftiging van die bome uitgespreek. Volgens Muller was die skool in gesprek met die Stad om die stuk grond te koop, maar dit is afgekeur omdat die grond geoormerk word vir toekomstige paduitbreidings, asook weens die teenwoordigheid van ‘n retensiedam daarop.

Gate is in die boomstamme geboor en onkruiddoder daarin toegedien om die bome kwaadwillig te vergiftig.
Gate is in die boomstamme geboor en onkruiddoder daarin toegedien om die bome te vergiftig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article