Bloedbad op Kaapse Vlakte duur voort

Die bloedbad op die Kaapse Vlakte duur voort met nog ’n jong seun wat ’n slagoffer geword het van vuurwapengeweld wat reeds maande woed.


Die bloedbad op die Kaapse Vlakte duur voort met nog ’n jong seun wat ’n slagoffer geword het van vuurwapengeweld wat reeds maande woed.

Die 14-jarige Gilliano Sass is verlede Woensdag dood toe hy deur onbekende aanvallers in ’n verbyry-skietery gewond is. Nog twee tieners, 15 en 18, is in die aanval op die hoek van Owen- en Clarkestraat gewond. Sass is op die toneel dood verklaar.

Sass is, volgens TygerBurger se berekening, die 24ste mens wat in die afgelope drie maande in Elsiesrivier, Bonteheuwel, Eersterivier en Bishop Lavis geskiet is. Die meeste voorvalle word met bendebedrywighede verbind.

Imrhaan Mukaddam van die Elsiesrivier-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê die geweld vra nie meer wat die ouderdom van die slagoffers is nie.

In kloue van wetteloosheid

“Ons praat al hoe lank daaroor dat daar nie meer besluit word wie is ’n kind of wie is ’n volwassene nie. Koeëls vra nie wie is wie nie en die bloed van ons kinders loop in die strate,” sê Mukaddam.

Volgens Mukaddam is Elsiesrivier in die kloue van wetteloosheid. “Die gemeenskap is keelvol om so te lewe. Ons gaan in Desember ons jaarvergadering hou en hoop om weer sterk leiers te kies om te verseker dat ons mense veilig kan wees. Niemand verdien om so te lewe nie,” sê hy.

Staan saam

Mukaddam doen ’n beroep op die gemeenskap om saam met die GPF te werk. “As almal net saamwerk, kan ons hierdie bendegeweld omkeer. Daar is sommige mense in die gemeenskap wat net kritiseer, maar hulle doen niks om die probleem op te los nie. Ons wil regtig graag sien hoe ons as gemeenskap hande vat en soos een man saamstaan,” sê hy.

Hy sê een van die nuwe tendense in die omgewing is dat skobbejakke klippe in die pad gooi en wanneer motors daaroor ry, word die insittendes beroof.

You need to be Logged In to leave a comment.