Om as die landswye toppresteerder vir leerders met spesiale behoeftes aangewys te word, is “ongelooflik”.
Samkelo Gumada (19), wat verlede week deur die nasionale onderwysdepartement vir hierdie prestasie vereer is, sê hy het glad nie dié eer verwag nie.
Gumada is ’n leerder aan die Athlone School for the Blind in Bellville.
Albinisme
Hy is met albinisme gebore en kom oorspronklik van die Oos-Kaap.
Sy onderwysers daar het egter aanbeveel dat hy na ’n spesialisskool toe gaan en hy het in gr. 5 by die skool vir siggestremdes ingeskakel. Hy het in die koshuis gebly en oor naweke by sy tannie in Philippi gaan bly.
Gumada besluit nog of hy vanjaar BA of onderwys wil gaan studeer, en of hy na die Universiteit van Johannesburg of die Universiteit van Wes-Kaapland wil gaan. Hy is vir albei kursusse en by albei universiteite aanvaar.
“Ek voel senuagtig, maar ek kies om dit te ignoreer. Ek kan nie benoud wees nie, want ek moet die wêreld gaan aanpak. Ek sien uit daarna om dit te ontdek.”
Gumada se raad is om ander se opinies te ignoreer.
“Fokus op jouself en om jou eie punte te verbeter.”
Sy vriend en medeklasmaat Nizibone Victor Mapolisa (18) het landswyd derde geëindig.
“Dit is ’n wonderlike prestasie,” sê hy.
“Ek het dit glad nie verwag nie en is regtig so bly.”
Mapolisa bly in Samora Machel en was ook in die koshuis. Hy gaan vanjaar regte aan die Universiteit van Johannesburg studeer.
“Ek sien daarna uit om nuut te begin en uit my gemaksone te kom.”
Hy raai ander aan om hard te werk en nie uit te stel nie.
“Stel ook doelwitte en werk om daardie doelwitte te bereik.”
Gumada en Mapolisa se verhale is net ’n klein bietjie van die suksesgolf wat die matrieks van 2023 in die Bellville-gebied getref het.
Oor die gebied heen het matrieks amper sonder uitsondering presteer.
Hier is enkele van die skole se prestasies:
Hoërskool Bellville
Hoërskool Bellville het weer eens ’n 100%-slaagsyfer – die 11de jaar in ’n ry dat al die matrieks die jaar slaag.
Hul toppresteerders is Jana le Roux (93,6%, sewe onderskeidings), Anika Matthee (90,9%, sewe onderskeidings) en Noanara Mostert (88,9%, sewe onderskeidings).
Hoërskool DF Malan
Die leerders van Hoërskool DF Malan het 494 A-simbole behaal, met 59 leerders wat ’n A-gemiddelde gekry het en 51 wat ‘n B-gemiddelde gekry het.
Die klasgemiddelde is 70% en 92% van die groep het universiteitstoelating gekry. Hul slaagsyfer is 98,6%.
Die skool se toppresteerders by dié skool se punte is so naby aan mekaar dat hulle met enkele persentasiepunte verskil.
Trouens, die eerste ses leerders se punte is almal bo 91%. Die topdrie is Anieka Wolmarans (93,71%, 7 onderskeidings), Bernardt Pretorius (93,43%, 8 onderskeidings) en Liam Theron (93,29%, 7 onderskeidings).
Settlers High School
The Settlers High School se slaagsyfer is vanjaar 99,2%. Altesaam 80,9% van die groep het universiteitstoelating gekry en die groep het altesaam 304 onderskeidings ontvang.
Altesaam 30 leerders het ’n A-gemiddelde, 44 het ’n B-gemiddelde en 84 het ’n C gemiddelde.
Hul topdrie presteerders is Mumo Kioko (92%), Erin Albelgas (90%) en Aeesha Parker (90%).
Hoërskool Stellenberg
Die Hoërskool Stellenberg het altesaam 457 A-simbole gekry, met 51 leerders wat ’n A-gemiddelde gekry het en 63 wat ’n B-gemiddelde gekry het.
Altesaam 96% van die groep het universiteitstoelating gekry.
Die skool se topdrie presteerders is Nina Adlem (94,83%, sewe onderskeidings), Heleen Myburgh (92,17%k sewe onderskeidings) en Dian Rossouw (91,83%, agt onderskeidings).