Binnelandse sake-tak kom eers in Maart

Die opening van die langverwagte departement van binnelandse sake-tak, wat na verwagting in Desember by die Tygervallei-sentrum in Bellville sou plaasvind, is nou eers in Maart.


Die opening van die langverwagte departement van binnelandse sake-tak, wat na verwagting in Desember by die Tygervallei-sentrum in Bellville sou plaasvind, is nou eers in Maart.

Só bevestig dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, wat aan die TygerBurger verduidelik die oponthoud is as gevolg daarvan dat die finale ooreenkoms tussen die departement en eienaars van die sentrum langer geneem het as wat verwag is.

’n Ooreenkoms is in Junie verlede jaar bereik.

Nadat die huurooreenkoms onderteken is, is die tegniese uitleg van die perseel gefinaliseer en aan die Stad Kaapstad vir goedkeuring gestuur.

Die Stad het in Desember die okkupasiesertifikaat uitgereik.

Die installasie van onder meer inligtingstegnologie-kabels en lessenaars is tans aan die gang, aldus Schreiber.

Die minister sê die departement het al sedert Junie toegang tot die perseel, waar kontrakteurs met opknappingswerk begin het terwyl daar op van die uitlegplanne en ander stappe gewag is.

Geen huur is betaalbaar vir die spasie in die winkelsentrum nie, sê hy.

Die departement is slegs aanspreeklik vir die bedryfskoste, munisipale tariewe en belastings.

Schreiber sê sy departement wil die installasie en stabilisering van die stelsels vandeesmaand afhandel.

Die tak sal na verwagting tussen Maandag 3 en Vrydag 7 Maart sy deure open.

Navrae was aan die Tygervallei-winkelsentrum gerig, maar is nie betyds teen druktyd beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.