’n Man (49) van Morgensterhoogte is Saterdag in die vroeë oggendure deur ’n huisrower met ’n mes in sy bed aangeval.
Volgens die Brackenfell-polisie het die rower omstreeks 04:25 eers by ’n motorvoertuig in die erf ingebreek en daarna deur ’n badkamervenster geklim om by die huis in te kom.
“Die huiseienaar het wakker geword toe die man verby sy bed gestap het en hy toe begin skreeu het. ’n Skermutseling het gevolg waartydens die huiseienaar met ’n mes gesteek is.
“Die geraas het die huiseienaar se seun en sy vriend, wat ook daar woon, wakker gemaak,” vertel Crous.
Volgens die seun het hy wakker geword toe sy pa hom begin roep het.
“Ek het in die kamer ingehardloop en die man op my pa gesien. My pa het baie gebloei en hy het sy wond probeer toehou met sy ander hand. Ek het die man weggeruk terwyl my pa weggekom het en my ma ’n handdoek gaan haal het om die bloed te stop,” vertel hy.
“My vriend het my kom help en ons kon die rower platdruk tot die polisie ’n paar minute later daar opgedaag het,” sê hy.
Volgens hom het sy pa twee steekwonde opgedoen – ’n ligte vleeswond in die arm en ’n diep steekwond onder die skouer.
’n Ambulans het kort ná die polisie opgedaag om die beseerde na ’n plaaslike hospitaal toe te vervoer.
Die 28-jarige rower van Kraaifontein is in hegtenis geneem en het Maandagoggend in die Bluedowns-landdroshof verskyn op klagte van huisroof en poging tot moord.