Volgende maand gaan die strate van Brackenfell in pienk getooi word om bewustheid oor kanker te kweek.
Oktober is bewusmakingsmaand van borskanker, maar die Brackenfell Forum poog om in die maand ondersteuning en vertroosting te bied aan almal wat aan kanker ly.
“Enige ernstige siekte is ’n uitdagende pad, maar kanker kan ’n baie lang en alleen pad wees omdat jy so aanmekaar moet teruggaan vir behandeling.
“Dan kry jy die goeie nuus: jy is in remissie. Maar uit vrees dat die kanker weer kan opduik, leef jy altyd in vertwyfeling,” sê Alta van Zyl, voorsitter van die forum.
Met die veldtog poog die forum om vroue en mans te oortuig om gereeld vir toetse te gaan.
Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika was die mees algemene kankers in 2019 onder vroue bors-, serviks- en uteruskanker; en onder mans prostaat-, long-, melanoom en kolorektale kanker.
Nog mense by veldtog
“Ons wil soveel mense moontlik by die veldtog betrokke kry,” sê sy.
Inwoners wat betrokke wil wees, kan van 7 Oktober af Brackenfell se boomstamme op sypaadjies in die hooftoevoerroetes of ’n boom in jou eie tuin met pienk materiaal toedraai.
Die volgende roetes word beplan: Brackenfell-boulevard (van die N1-brug tot by Bottelary); Cecil Morgan-rylaan in Proteahoogte; Frans Conradierylaan van die R300 tot Brackenfell-boulevard; Ou Paarlpad tot by Brackenfell-boulevard, en binne woongebiede. Teen 31 Oktober moet alle materiaal weer verwyder word.
Inwoners kan dan ook materiaal aan die Brackenfell Forum skenk om troos-kombersies vir kankerpasiënte te maak.
“Die kombersies sal dan aan kankerpasiënte oorhandig word om te gebruik terwyl hulle behandeling ontvang om te weet dat die gemeenskap hulle onderskraag op hul pad na herstel.
“Elke kankerpasiënt se storie en pad verskil. Die kombersies sal met liefde gemaak word en met liefde gegee word. Elke pasiënt wat hom of haar daarmee toegooi, kan dan weet dat ons in die gees by hulle is en dat ons gebede hulle vergesel,” sê Van Zyl.
Die Gemeente met Oop Deure in Proteaweg het sy parkeerterrein beskikbaar gestel op 30 Oktober van 10:00 tot 12:00 om die skenking te kom afgee.
“Gedurende 2020 het Covid-19 die wêreld geslaan. Brackenfell was nie uitgesluit nie, maar wat uitgestaan het, was die eenheid, helpende hande en oop beursies waar noodkosvoorraad dadelik bekom moes word. Dieselfde burgerlike kohesie en deernis is noodsaaklik om ook bewuswording van kanker te ondersteun. Laat ons vir mekaar die spreekwoordelike ‘trooskombersie gee’.”
Op 28 Oktober sal ’n oggendtee gehou word ter afsluiting van kankermaand. Bespreek per e-pos by Brackenfel.forum@gmail.com.