’n Skelm het verlede week ’n nuwe betekenis aan die woord “roofkyk” gegee nadat hy ’n advertensie op ’n huiskoop-webblad gebruik het om ”goedere” te verkoop.
Die bedrogspul het aan die lig gekom toe die eienaars van ’n huis in Stellenberg tot hul skok agterkom hul huis is die spilpunt van die dief se slinkse plan om geld te maak.
Marli Fourie het Donderdag niksvermoedend by haar huis in Nassaustraat gestaan toe ’n man opdaag om ’n sleepwa te kom haal.
Sy het nie van so ’n transaksie geweet nie en haar man, Johan, gaan vra.
Dié het ook gesê hy weet nie van so iets nie.
Die man het vir Johan die kommunikasie op sy foon gewys, wat ooreenstem met die Fouries se huisadres.
Skielik het meer en meer mense by hul huis opgedaag om items te koop.
Baie het deposito’s betaal.
Die groter meerderheid items is items wat die egpaar besit.
Dit het nie lank gevat voordat die twee besef het wat heel moontlik gebeur het nie.
Die egpaar se huis is verlede jaar verkoop en hulle is in die proses om uit te trek.
Soos gebruiklik is hul adres en foto’s van hul huis eers op ’n huiskoop-webblad geadverteer.
Die skelm het hierdie geleentheid gebruik om bietjie ekstra geld te maak.
Hy het plaaslike buurtgroepe op sosiale media geteiken en die meeste goedere teen spotgoedkoop adverteer.
Onder meer is ’n tafeltennisblad ter waarde van omtrent R15 000 vir R1 200 geadverteer.
’n Opwekker ter waarde van omtrent R30 000 is vir R3 000 te koop aangebied.
Toe die kopers vir foto’s gevra het, het hy ingestem en aangestuur.
Dié foto’s het wel verskil van dié wat op die webtuiste gewys is.
Hy het toe vir sowat sewe mense gesê om op ’n sekere tydperk by die huis hul items te kom haal.
Baie het geglo dis geloofwaardig omdat hulle die spesifieke adres gesien het of familielede van die gesin ken.
Hy het selfs vir een man gesê hy moet vinnig spring omdat daar baie aanvraag vir ’n sekere item is.
“Ek kry al daai mense so jammer,” sê Marli.
“Hulle’t gedog dis legit; hulle ken die area, ry verby die huis.”
Sy skat almal het in totaal R2 000 aan die skelm betaal.
Hulle het die nommer in die advertensie van verskillende fone af gebel, maar geen antwoord gekry nie.





