Die geheuestokkies wat gevind is.


’n Man in sy laat veertigs is gister (Donderdag 26 Januarie) by sy huis in Welgemoed in hegtenis geneem nadat die polisie dwelms en ‘n gesteelde eksterne hardeskyf daar gevind het.

Die verdagte bly in ’n buitekamer op die perseel. Hy gaan waarskynlik môre of Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn op klagte van die besit van dwelms en gesteelde eiendom.

Dit het gekom ná ’n ondersoek by sy huis deur die Bellville-polisie se nuutgestigde taakspan.

Hierdie taakspan is sowat drie weke gelede gestig en fokus op dwelm- en prostitusieverwante sake, het ao. Henriëtta van Niekerk, woordvoerder van die Bellville-polisie, gesê.

Spuitnaalde is ook gekonfiskeer

’n Lasbrief is gemagtig om sy huis te deursoek nadat die polisie inligting ontvang het en die taakspan waarnemings by die huis gedoen het, het Van Niekerk gesê.

“Sers. Joanita Smit en sers. Trevor Doubell, asook lede van die metropolisie, het op die eiendom toegeslaan.

“Klein hoeveelhede dagga en tik is in die huis gevind, asook ’n eksterne hardeskyf wat in 2015 tydens ’n inbraak by die Laerskool Parow-Wes gesteel is,” het sy gesê.

Volgens Van Niekerk het die taakspan ook beslag gelê op verskeie ander eksterne hardeskywe, asook selfone, skootrekenaars, geheuestokkies en seksspeelgoed.

“Die ondersoek duur voort om te bepaal of enige van die ander items met enige misdaad verbind kan word,” het Van Niekerk gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.