’n 76-Jarige man van Stellenberg beskryf sy onlangse ervaring by ’n plaaslike hospitaal se ongevalle-eenheid as ’n “nagmerrie-ondervinding,” toe hy vir meer as vyf ure gewag het vir ’n dokter om steke toe te dien aan ’n diep snywond op sy been toe te dien.
Johannes Knipe het op 21 Augustus by sy huis van die trappe afgeval.
“My arm en my been is beseer en ek het bitter baie gebloei. Ek het ook my kop ligweg gestamp,” het hy verlede week in ’n onderhoud met TygerBurger vertel. Sy vrou het die wonde verbind en die paartjie het hulself na die Cape Gate Mediclinic se noodsentrum toe gehaas vir mediese behandeling.
“Ons het so 15:00 daar aangekom en na vlugtige assessering is ons gevra om in die wagkamer te gaan wag, en daar het ek gesit tot en met 19:30 toe met twee wonde wat bloei, en geen hulp.”
Knipe sê hy het in ‘n stadium gevra vir meer verbande maar is net ’n pleister aangebied. Volgens hom was die ongevalle-eenheid propvol en sommige mense moes vir ure lank staan omdat daar nie genoeg stoele was nie.
“’n Arme ma en haar siek babatjie en drie ander ma’s met klein kindertjies moes ook vir ure wag,” sê hy.
Bed
Dis eers toe hy luidkeels om hulp aangedring het dat ’n bed in die eenheid vir hom beskikbaar gemaak is, maar ook daar moes hy vir ’n verdere uur of wat wag vir ’n dokter.
“Ek is meegedeel dat daar net 10 beddens en twee dokters was en dat pasiënte wat met ambulanse ingebring word voorkeur geniet.Ek is eers om 21:30, moeg en honger en sonder my chroniese medikasie daar uit en moes boonop die fooi van R1 600 kontant betaal voordat ek toegelaat is om huis toe te gaan.”
Met al 10 beddens wat vol was en ’n wagkamer met meer as 15 mense, is Knipe van mening dat die ongevalle-eenheid totaal en al onvoldoende is vir ’n privaat hospitaal met ’n tekort aan dokters in so ’n groot gemeenskap.
“Ek kon maar net sowel na ’n publieke hospitaal toe gegaan het. Alhoewel die twee dokters aan diens baie gaaf was, is dit mos nie aanvaarbaar vir private mediese dienste nie?”
Knipe sê hy het sy ongelukkigheid aan die nagskof bestuurder by die hospitaal aangemeld, wat dit glo aan die dagbestuurder vir ondersoek sou rapporteer.
“Maar tot vandag toe het die hospitaal my nog nie gebel nie, het hy Donderdag gesê”
Die hospitaal het hom egter vandag (13 September) geskakel nadat daar aan TygerBurger bevestig is dat ’n ondersoek nou sal volg.
Mediclinic
“Ons is opreg spyt oor mnr Knipe se ervaring by ons hospitaal. Ongelukkig was wagtye daardie middag en aand langer as gewoonlik weens hoë pasiënt volumes. Daarbenewens is pasiënte wat meer siek was geprioritiseer is. Die wagtyd en vertraging in die noodsentrum is aan al die pasiënte in die wagkamer insluitende mnr Knipe verduidelik,” sê ’n woordvoerder van Mediclinic Southern Africa in ’n amptelike verklaring aan TygerBurger.
“Die besonderhede word tans ondersoek en ons kan bevestig dat ons met mnr Knipe in die verband geskakel het. ’n Vergadering sal volgende week plaasvind om sy klagte en bekommernisse te bespreek en terugvoering te gee oor die bevindinge van ons ondersoek.”
Die hospitaalgroep meld in die verklaring dat die noodsentrum tans uitgebrei word om die groeiende gemeenskap beter te kan akkommodeer.
“Met die konstruksie werk wat tans daar plaasvind is daar dan ook logistieke beperkinge in die eenheid wat ook ’n impak op pasiënte se ervaring kan hê. Ons vra innig om verskoning vir die ongerief en waardeer die gemeenskap se geduld gedurende die tydperk.”


