Die Hoërskool Bellville-dirigente is (van links) Günther JördenMTBs, Miandra Hayward, Liandrey Gelderbloem, Carla du Plessis, Robin Alblas, Leandri Martin, Larissa Pullinger en Casey Jagers. Vanjaar se tema was “Lasting Footprints”.

Supplied

‘n “Menslike fout” het veroorsaak dat daar vanjaar twee
wenners is by die MTBS-atletiekbyeenkoms, een van die land se bekendste
skole-atletiekbyeenkomste.

Leerders van die hoërskole D.F. Malan, Tygerberg, Bellville
en Stellenberg (MTBS) is vanoggend in kennis gestel dat daar ‘n berekeningsfout
gemaak met die pawiljoenbeker. Die Hoërskool D.F. Malan, wat verlede week as
wenners aangewys is, deel nou die titel met die Hoërskool Bellville.

“Ek dink nie enigiemand blameer vir enigiemand nie. Dit was
’n menslike fout en kon met enigeen gebeur het,” sê Margaret Pansegrouw,
organiseerder van die byeenkoms.

Volgens Pansegrouw het hulle jaarliks ‘n
buitemoderator  wat aangestel is om die punte op te tel. Die persoon word
deur die gasheerskool gekies, maar Pansegrouw benadruk die persoon het nie ‘n
kind in enige van die skole nie en is op geen ander manier verbind nie.

Die moderator het die punte ná Woensdag se
pawiljoenkompetisie opgetel, neergeskryf en in ‘n geseëlde koevert gesit. Dié
koevert is eers weer Vrydag by die byeenkoms se prysuitdeling deur Pansegrouw
oopgemaak en bekendgemaak.

Daar is tradisioneel drie kategorieë wat by MTBS gewen kan
word. Die atletiekbeker (vanjaar deur Hoërskool Stellenberg gewen), die
geesbeker en die pawiljoenbeker. Die gees en pawiljoenbeker is albei Vrydag aan
die gasheerskool, die Hoërskool D.F. Malan, oorhandig.

Die pawiljoenbeker word beoordeel op die skole se visuele
flitse, sang en danspassies wat in skoolklere uitgevoer word. Vanjaar is dié
byeenkoms weer twee dae voor die atletiekbyeenkoms gehou.

Pansegrouw sê die organiseerders het oudergewoonte Maandag
al die punte aan die verskillende skole deurgestuur. Teen Dinsdag het Sias
Conradie, hoof van die Hoërskool D.F. Malan, gebel en gesê die punte klop nie.
Daar was nie voor daardie oomblik klagtes of appél aangeteken nie.

Dit beteken vanjaar is die eerste keer in die byeenkoms se
25-jaar lange geskiedenis dat twee skole die pawiljoenbeker deel.

Pansegrouw sê die reëlingskomitee het oor ‘n week ‘n
evalueringsvergadering waar hulle ook sal praat oor hoe om sulke foute in die
toekoms te voorkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article