Die skoolgemeenskap word op verskillende maniere geraak deur die voortslepende bendegeweld op die Kaapse Vlakte.
Skole het gister hul deure geopen vir die derde kwartaal te midde van ‘n bendeoorlog wat fel woed.
TygerBurger het gaan kers opsteek by ‘n onderwyskundige en voormalige skoolhoof in Kleinvlei, een van die gemeenskappe wat veral deur geweld geraak word en haar gepols oor die invloed wat die geweld op ‘n skool het. Net verlede week is ‘n matrikulant aan die Hoêrskool Kleinvlei tien drieë van sy ouerhuis doodgeskiet.
Alison February was destyds hoof van die Laerskool Melton. Daar het sy eerstehands ervaar hoe ontwrigtend geweld kan wees.
“‘n Skool is die hart van ‘n gemeenskap en alles wat die gemeenskap raak, het ‘n invloed op die skool,” sê February.
Vrees in skole
Volgens haar word skole op verskeie maniere geraak, waarvan een die gevoel van vrees is. “Wanneer iemand in die gemeenskap rondom die skool geskiet is, word die ouers van leerders angsbevange en stuur hulle hul kinders dan nie skool toe nie. Dit is ‘n menslike reaksie en ‘n mens kan dit verstaan, maar die invloed wat dit op die leerder se akademiese prestasie het, is enorm. Skole se kurrikulum is deesdae so gelaai dat dit moeilik is om daardie kind weer te laat opvang. Opvangklasse moet saans en oor naweke aangebied word en watter ouer sal ‘n kind oor ‘n naweek of saans stuur as hulle reeds in die week bang is?” vra February. Sy sê die feit dat leerders agter raak, het ‘n invloed op hul selfvertroue en sommige verlaat die skool. “Dit is die begin van ‘n bose kringloop, want skoolverlaters is geneig om by bendes aan te sluit,” sê sy.
Afwesigheid is ook nie tot leerders beperk nie. “Onderwysers begin ook met sieksertifikate vorendag te kom. Dit is ‘n Catch 22-situasie, want dit raak ook moeilik om onderwysers vir die skole te werf.”
In baie gevalle is die sibbe van bendelede ook in die skole. “Hulle begin ook later soos hul ouer sibbe optree en begin ander kinders aan te val. Bendegeweld is ‘n kanker wat ‘n hele skoolgemeenskap kan verteer, terwyl skole eintlik die gom moet wees wat gemeenskappe saamsnoer en die vertrekpunt moet wees van waar gemeenskappe hul omstandighede verander,” sê sy.
Oplossing
Wat kan gedoen word om skole teen bendegeweld te beskerm?
“Dit sal ‘n spanpoging van verskillende vlakke van die samelewing verg, maar uiteindelik moet gemeenskappe weer eienaarskap van skole neem. Hulle moet saamstaan om ten minste seker te maak dat kinders veilig is wanneer hulle skool toe kom of huis toe gaan. Sonder gemeenskapsbetrokkenheid is ons kinders blootgestel aan die wrede werklikheid van bendes en moord en doodslag,” sê sy.
TygerBurger gaan oor drie weke met kenners oor bendegeweld, die invloed op gemeenskappe en moontlike oplossings gesels.


