Rowers vasgetrek Vrydag in Brighton Weg deur polisie.


Vier vermeende rowers het glo die Shoprite U-Save-winkel in Kraaifontein probeer beroof nadat hulle reeds vermoedelik ‘n MTN-winkel in Durbanville beroof het. 

Die rowers het egter hul rieme styfgeloop teen ‘n op-en-wakker Kraaifonteinse polisiebeampte.

Só het provinsiale polisiewoordvoerder Noloyiso Rwexana bevestig. Volgens haar is dié beampte (30) tydens die voorval in die hand geskiet en na die naaste hospitaal vervoer. 

Rwexana sê die vermeende rowers het die selfoonwinkel glo beroof en is deur die polisie agterna gesit toe hulle probeer wegkom het. Sy sê hulle in die rigting van Kraaifontein gery waar hulle vasgekeer is voor die U-Save-winkel. 

Inwoners van Kraaifontein en buurtwagte het saamgewerk om van die rowers wat wou probeer wegkom, vas te trek.

Een inwoner sê een van die rowers het oor ‘n muur gespring en “heel rustig probeer wegstap”. 

“Ek het ‘n beskrywing van hom aan die buurtwag gegee en hy is vasgetrek. ‘n Ander een (rower) is in ‘n huis anderkant die treinspoor vasgetrek. Gelukkig is al vier gevang omdat die polisie so gou opgetree het.”

Rwexana sê twee van die rowers is raakgeskiet nadat ‘n skietery tussen die polisie en die rowers uitgebreek het. Hulle is tans in die hospitaal onder polisiebewaking. 

“Die vuurwapen (wat afgevuur is) is weggeneem en ‘n saak van poging tot moord en sakeroof is geopen,” sê sy. 

Volgens haar gaan die vermeende rowers in die Blue Downs-hof verskyn nadat hulle aangekla is.

Brig. Gerda van Niekerk, die Kraaifontein-polisie se stasiebevelvoerder, sê: “Ons is net dankbaar dat ons met goeie spanwerk dié ronde gewen het.” 
Sy het ook bevestig dat die beampte wat vroeër  in Brightonstraat deur die vermeende rowers raakgeskiet is, in ‘n bestendige toestand in die hospitaal is.

Van Niekerk sê dis weer eens ‘n bewys dat die polisie gereed is vir die feestyd wat voorlê en nie gaan toelaat dat misdaad oorneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.