Talle inwoners van Belrail het maar ’n stink feestyd agter die rug met voortdurende stank en onhigiëniese toestande omdat rioolwater gedurig hul erwe oorspoel weens verouderde infrastruktuur.
In ’n nasionale televisienuusprogram is op Vrydag 3 Januarie verslag gedoen oor die nuutste reeks oorstromings in die gebied, veral dié in Van Zylstraat, wat al sedert Donderdag 26 Desember in die gebied voorkom.
Dít nadat TygerBurger reeds verlede jaar oor die probleem berig het (“Riool saai baie chaos”, TygerBurger, 23 Oktober).
Herstelwerk duur voort
“Die Stad se direktoraat vir water en sanitasie is bewus van die uitdagings wat hierdie inwoners tans ervaar en herstelwerk word gedoen,” sê Siseko Mbandezi, waarnemende burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie.
Die mees onlangse ineenstorting in Robert Sobukweweg is op Vrydag 3 Januarie opgespoor deur middel van ’n kamera-inspeksie binne-in die pyplyn. Hierdie ineenstorting beïnvloed ook die blokkasies wat in Belrail ervaar word, bevestig Mbandezi.
“Die herstelrekords van hierdie spesifieke pyplyn is nagegaan en ’n noodkontrakteur sal die herstelwerk aan die ineengestorte gedeelte uitvoer.”
Die direktoraat het aan die einde van Desember ook ’n ineenstorting van ’n rioolpyp in Belrailweg aangemeld. Dit was die tweede ineenstorting in Belrailweg.
“Werk om die huidige ineengestorte rioolpyp te herstel het op Saterdag 28 Desember begin. ’n Kontrakteur het die herstelwerk behartig, terwyl die depot-span gehelp het met die opruiming en ontsmetting van die aangetaste eiendom.”
‘Oorstromings onvoorspelbaar’
Hierdie voorvalle is onvoorspelbaar, sê Mbandezi, “en lei in die meeste gevalle tot wisselende vlakke van oorloop, afhangend van die volumes wat op daardie tydstip in die riool vervoer word”.
“Water-en-sanitasiespanne reageer op elk van hierdie voorvalle, wat dikwels noodreaksie vereis namate dit voorkom.”
Die ander rioolpypineenstortings wat naby Belrail plaasgevind het, was in Robert Sobukweweg en nog een in Suidstraat langs die spoorlyn. Hierdie herstelwerk is reeds voltooi.
Die oorsaak van hierdie rioolpypineenstortings is verouderde infrastruktuur, herhaal Mbandezi.
‘Werk begin in Februarie’
Hy hou vol dat rioolpype in die gebied reeds as deel van die Stad se jaarlikse rioolpypvervangingsprogram vir vervanging geïdentifiseer is.
“Werk sal na verwagting vroeg in Februarie begin, onderhewig aan ’n risiko-assessering, relevante goedkeurings, prioriteit in verhouding tot ander rioolprojekte en beskikbare geld.”
Verdere vervangings sal na verwagting ook in die boekjaar 2025-’26 plaasvind, onderhewig aan goedkeuring.
As deel van hierdie proses, voeg Mbandezi by, sal ’n professionele diensverskaffer ook kritieke rioolstelsels ondersoek en rehabiliteer wat onder die Transnet-spoorlyne deurloop.
“Ons bedank inwoners vir hul geduld terwyl die huidige herstelwerk plaasvind en betreur enige ongerief wat gedurende hierdie tyd veroorsaak word.”
Oornag pomp-bystand benodig
Inwoners sê egter aangesien dié riooloorstromings só gereeld voorkom, is betroubare bystand van tenkwaens en sanitasiedienste vir hul eiendomme nodig om die stryd om die infrastruktuur te herstel in die tussentyd draaglik te maak.
Een so ’n inwoner op die Belrail COCT-klagtegroep meen: “As daar géénmaklike oplossing is nie, laat die pompwerk dag en nag plaasvind om die lewe vir die geraakte inwoners makliker te maak totdat ’n langtermyn of permanente oplossing gevind word.”
Vrae is aan die Stad gerig om te bepaal of meer betroubare bystand van tenkwaens vir die pomp van rioolwater tydens oorstromings, en sanitasie ná die tyd, oorweeg word. Mbandezi het nie enige waarborge in dié verband in die terugvoer aan TygerBurger gegee nie.


