Die Hoërskool Bellville het Saterdag vir die eerste keer in 25 jaar die MTBS-atletiekbyeenkoms gewen FOTO: hannelie van lill

Credit: SYSTEM

Die Hoërskool Bellville het Saterdag die eerste keer in 25 jaar koning gekraai in die MTBS-atletiekkompetisie.

Om ’n kersie op die koek te plaas, is dit ook vanjaar die skool se 25ste verjaarsdag.

Die Hoërskool Stellenberg was met twee punte minder die naaswenner.

Dié gewilde kompetisie het vanjaar met ’n beperkte aantal toeskouers by die Groenpunt-stadion plaasgevind.

“Ons kele is hees geskree en ons beker loop oor – letterlik,” sê Hannelie van Lill, bemarker by die Hoërskool Bellville.

Die eindtellings was: Hoërskool Bellville (1 181), Hoërskool Stellenberg (1 179), Hoërskool D.F. Malan (879) en Hoërskool Tygerberg (864).

Bellville het ook die hoogste telling in o.15-meisies en o.17-meisies, terwyl Stellenberg die afdeling vir o.14-meisies gewen het en D.F. Malan se meisies in die o.19-afdeling die beste was.

Bellville het drie van die vier afdelings vir seuns gewen (o.15, o.17 en o.19), en Stellenberg die o.14-seunsafdeling.

Trofeë is aan die volgende mense uitgedeel: Jacky Roux van die Hoërskool Bellville vir die beste prestasie in drie items (meisies), Keeraco Peterson van die Hoërskool Bellville vir die beste prestasie in drie items (seuns), Chisom Udeneze van die Hoërskool Tygerberg vir die beste meisie-prestasie en Wessel Joubert van die Hoërskool Stellenberg vir die beste seuns-prestasie.

Chisom Udeneze van die Hoërskool Tygerberg en Wessel Joubert van die Hoërskool Stellenberg het die afdelings vir seuns en meisies vir die beste algehele prestasie gewen.

Deon du Plessis, hoof van die Hoërskool Bellville, sê “pandemonium, trane van spanning, blydskap, passie en trots” het hoogty gevier toe die aankondiging gedoen is. Hy het almal se aandeel in die deelname en aanbied van die kompetisie geprys. “Wat ’n ongelooflike spanpoging,” sê hy. “Elke liewe atleet het ’n aandeel in hierdie spanpoging gehad. Wanneer jy met twee punte wen, beteken dit dat elke atleet alles gegee het – of jy nou nege punte of een punt vir jou span verdien het. Jy was verantwoordelik vir hierdie ongelooflike spanpoging.”

Hy het ook die gemeenskap en onderwysers vir hul insette bedank.

“Ouers wat tot in die vroeë oggendure gewerk het; personeel wat saam met hul skoolwerk ure en ure bestee het om alles te organiseer. Dit was voorwaar ’n spanpoging van die gemeenskap!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article