Omstandighede in Bellville keer terug na normaal nádat die polisie en spesiale-eenhede vroeër vandag (Maandag 11 November) ondersoek na ’n reeks bomdreigemente in die gebied ingestel het.
Polisiewoordvoerder, lt.kol. Fienie Nimb, het aan TygerBurger bevestig dat pendelaars en motoriste vrylik kan beweeg na verskeie persele in Bellville veilig verklaar en oopgestel is.
“Die Bellville-polisiekantoor het vanoggend vroeg ’n oproep ontvang wat gewaarsku het oor bomdreigemente oor verskeie sleutelpunte in Bellville,” het Nimb bevestig, maar nie gesê watter sleutelpunte bedreig was nie.
Beeldmateriaal is op verskeie sosiale media-platforms gedeel waar persele en gebiede, weens dié bomdreigement, ontruim is.Sy sê die polisie neem sulke dreigemente baie ernstig op en het summier spesiale eenhede, soos die bom- en honde-eenhede, na dié persele ontbied.
“Die nodige voorsorgmaatreels is getref en sommige punte in Bellville is ontruim en beveilig. Dié persele is wel na deeglike ondersoek, weer veilig verklaar.”
Nimb sê dat dreigemente van die aard baie ernstig opgeneem word en verder ondersoeke sal volg.
“Die Bellville-polisie neem sulke dreigemente glad nie ligtelik op nie, en verdere ondersoek sal ingestel word. Operasies wat saamgestel word om op sulke dreigemente te reageer, verg baie mannekrag en hulpbronne.”