Blue het die meeste van die tyd die voortou geneem en ten spyte van moedige pogings deur Anelda en Michelle, was hy die eerste om sy soutsilo oop te sluit wat hom die prysgeld besorg het.


Bellville se eie 39-jarige Blue Kester het alle verwagtinge oortref met sy oorwinning in kykNET se werklikheidsreeks Plaasjapie, waar stadsjapies hul sout moes wys.

In die tweede seisoen van die reeks het Blue almal verras deur die finale uitdaging te wen.

Met hierdie titel as Plaasjapie kon hy ook R795 000 in sy sak steek.

In die finale episode het Blue teen Anelda Price (24) en Michelle de Waal (42) meegeding in ’n uitdaging wat verskeie take van vorige uitdagings gekombineer het. Trappe is gebou met hooibale, balanseerbalkies en wipplanke is getrotseer, en ’n emmer is gevul met die kleinste moontlike emmertjie.

Blue het dikwels die leiding geneem en, ten spyte van moedige pogings deur Anelda en Michelle, was hy die eerste om sy soutsilo oop te sluit, wat hom die prysgeld besorg het.

LEES: Kos kies kampioen Kokkedoor-kok Kevin

Spel-strategie

Vanaf die stadsjapies se aankoms op die twee plase, Groenkloof en Oranjezicht, was dit duidelik dat Blue ’n unieke plan gehad het. Terwyl sy hande nie altyd so besig was soos sommige deelnemers dit wou hê nie, het hy met slim kopspel bondgenootskappe gesluit wat tot aan die einde in sy guns getel het.

“Daai was 100% Game Blue. Ek het vroeg vir myself gesê ek gaan met my mind speel en nie met my hart nie. Ek moes die game strategies hard speel omdat ek geweet het ek is nie ’n fisiese threat nie,” sê hy.

Een van sy grootste taktiese skuifels het hom amper uitgeskakel. Dit was toe hy ’n truuk uit Riaan Snyder (30) se boek gebruik het om homself as die doelwit vir uitskakeling voor te stel. Riaan wou werklik huis toe gaan, maar nie Blue nie – hy het immers ’n bonus-pekelpennie gehad.

Blue se bondgenote

Hy wou seker maak sy bondgenoot, Monique Hobkirk (42) bly deel van die reeks ten koste van Liovian Anderson (40) of André Mouton (44).

“Baie mag dalk nie saamstem met hoe ek die game gespeel het nie, maar dit het my veilig gehou en het my tot in die top-3 gevat wat dit moontlik gemaak het om te wen. En daarvoor is ek dankbaar,” sê vanjaar se Plaasjapie.

LEES: Bellvilliet op Kokkedoor: ons het gelag, gehuil, gestres en gekuier

Hy hoop ook dat daar geen kwade gevoelens van ander deelnemers teenoor hom is nie.Dit was nie net bloed, sweet en taktiek nie, daar was ook geselskap en braaivleis. En natuurlik ’n paar verrassings.

“My snaaksste oomblik was om die shocked gesigte te sien toe ek veilig is gedurende die kook-uitdaging. Niemand het verwag dat ’n slaai die beste gereg van die dag gaan wees nie. Wel, niemand seker behalwe ek nie, want daai slaai was amazing!” sê Blue.

Die pad vorentoe

Vir byna drie jaar is Bellville Blue se “ewige tuiste” sedert hy in 2021 van sy tuisdorp Nababeep net buite Springbok in die Noord-Kaap, verhuis het.

“Ek is ’n gemeenskapsontwikkeling-koördineerder wat saam met vissermanne en -vroue werk. Ek is verantwoordelik vir die support desk wat hulle bystaan en ook om opleiding vir vissermanne en vroue waarmee ons werk, te bied,” vertel hy.

Nou dat hy hierdie uitdaging aangepak het, sê Blue: “Natuurlik is dit my groot droom om miskien eendag vir Survivor in te skryf.”

Hou hierdie spasie dop, die kans is goed dat Blue weer sy strategie teen ander deelnemers op die kassie gaan inspan.

Maar eers gaan hy die prysgeld gebruik vir die hoofrede waarom hy vir Plaasjapie ingeskryf het, en dit is om die lewe vir sy ma en ouma gemakliker te maak.

“Ek het in ’n enkelouerhuis grootgeword, met my ouma en oupa wat my grootste cheerleaders was al die dae van my lewe. Toe ek nog klein was het my ma, Lucilla Basson, ook Kaapstad toe gekeer vir werk, en so was ek en my broer grootliks deur my ouma Hanna Kester versorg.”

Met so finansiele inspuiting, sien Blue daarna uit om sy ma en ouma die beste lewe te gee “en hulle te bederf”.

“Ons het nie baie rykdom gehad toe ek grootgeword het nie, so wegbreek-vakansies was ’n luuksheid wat ons nie kon bekostig nie. Die eerste ding wat ek wil doen is om vir ons in ’n gastehuis of hotel in te boek, en hulle met inkopies by die winkels te bederf.”

Blue deel ook met die TygerBurger dat hy ook graag sy ouerhuis in Nababeep op te knap.

“Na my oupa se afsterwe, sal ek ook graag ’n mooi grafsteen wil aanskaf om my oupa se graf op te knap en te wys dat ons hom nooit sal vergeet nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.