Nadat Sunder Computers in Old Oak-weg verlede Maandag 10 Maart van sowat R600 000 se skootrekenaars beroof is, bly Trevor Ernstzen van dié onderneming optimisties terwyl die winkel se rakke met nuwe voorraad gevul word.
“Ek wil nou fokus op die positiewe vooruitsigte ná dié voorval deur aan die breër gemeenskap te sê ons bly oop vir sake en is weer gereed om ons klante te dien,” sê hy.
Ná die rooftog by die rekenaarwinkel het die verdagtes met ‘n klomp skootrekenaars, Ernstzen se selfoon, sy kredietkaart en sowat R600 kontant gevlug.
Gelukkig het die bure van die winkel, wat die rooftog aanskou het, die verdagte voertuig se registrasienommers by die polisie aangemeld.
Drie verdagtes is later die dag in hegtenis geneem op ‘n aanklag van sakeroof en het die volgende dag hul eerste verskyning in die Bellville-landdroshof gemaak.
“In samewerking met die Kaapstad-blitspatrollie het polisiebeamptes inligting oor die voorval opgevolg en drie verdagtes in Gugulethu vasgetrek. Die inhegtenisnemings volg nadat die polisie die klaer se kredietkaart in die verdagte se besit gevind het,” sê lt.kol. Debbie Brönn van die Durbanville-polisie.
Ernstzen was omstreeks 11:35 alleen in die winkel toe die verdagtes twee wapens op hom rig.
Die boewe het ook die sleutels van die veiligheidshek by hom afgevat om vir ‘n derde verdagte oop te sluit, wat vermoedelik buite gewag het.
Dit is toe dat die verdagtes die rekenaars een na die ander in ‘n sak gegooi en binne 10 minute van die toneel gevlug het.
Hy vertel aan TygerBurger hy het aanvanklik die veiligheidshek vir twee mans oopgemaak toe hulle hom laat glo het hulle wil ‘n skootrekenaar vir ‘n student koop.
“Die een wat saam was, het klein en jonk gelyk, so ek het aanvanklik niks as verdag beskou nie. Toe hulle die wapens op my rig het, ek vir hulle gesê om te neem wat hulle wil, want ek was nie seker of hulle trigger happy was nie.”
Brönn het aan TygerBurger bevestig dat die verdagte voertuig eenders is aan die een wat in die rooftog by die Stellenberg Spar op Sondag 2 Maart gebruik is, maar het ‘n ander stel, vermoedelik gesteelde nommerplate, vertoon (“Vier mans beroof winkel in Stellenberg,” TygerBurger, 5 Maart). “Daar word vermoed dat dieselfde verdagtes by die sakerooftog in Old Oakweg betrokke was, aangesien dieselfde modus operandi in albei gevalle opgemerk is. Die verdagte voertuig met beweerde gesteelde nommerplate word nog gesoek,” voeg Brönn by.
