Nie net het Gerda Janse van Rensburg aan haar seun, Tiaan, die lewe geskenk nie, maar binnekort skenk sy hom ook ’n tweede kans op die lewe.
Tiaan en Gerda berei hulself voor om vroeg volgende jaar ’n nieroorplanting te ondergaan nadat dokters die slegte nuus moes oordra dat hy aan nierversaking ly.
Dit is maar net die jongste verwikkeling in die mediese uitdagings wat dié gesin van Bo-Oakdale beleef sedert skleroserende cholengitis (’n lewersiekte) in 2012 by Tiaan gediagnoseer is.
Primêre skleroserende cholengitis is ’n langtermyn-progressiewe siekte van die lewer en galblaas, gekenmerk deur inflammasie en littekenvorming van die galbuise, wat normaalweg gal uit die galblaas laat dreineer.
Hoewel hy hoofsaaklik aan ’n lewersiekte ly, het Tiaan se niere begin ingee weens jare lange gebruik van immuunonderdrukker-medikasie. Tot dusver funksioneer Tiaan se lewer, maar hy sal waarskynlik ook ’n leweroorplanting moet ondergaan.
Jare lange lyding
Op die jonge ouderdom van 23 ondergaan Tiaan al die afgelope jaar twee weeklikse dialise-sessies.
“Op ’n Maandag en Vrydag ondergaan ek smiddae om 16:00 die dialise sodat ek soggens steeds die dag se werk kan verrig. Dit is uitputtend, maar ek moet fokus vir my toekoms se onthalwe behou,” deel Tiaan met TygerBurger.
“Hy is ’n werkende man by KTM in die Paarl, wat sy uitdagende omstandighede só goedgesind is.
“Dit is so hartseer om jou seun sy lewe lank te sien worstel,” vertel sy pa, Stanley.
“Ek was maar 12 jaar oud toe die lewersiekte gediagnoseer is. Ek moet sê ek was al, selfs op skool, in diep depressiewe tye. Dit is ’n eensame ervaring – moeilik om te beskryf omdat meeste mense dit nie ken nie,” voeg Tiaan by.
Ten spyte van sy groot liefde vir sport, soos rugby en karate, moes Tiaan dit als prysgee om op sy gesondheid te fokus.
“Ek is steeds baie lief vir rugby! As kind was my doel om eendag ’n Springbok te word. Maar deesdae speel ek liewer aksiekrieket en fokus daarop om gesond te bly en soveel water moontlik te drink.”
Tiaan meen hy is maar ’n kort outjie, sowat 1,6 m lank, omdat hy deur al die jare lange medikasieverbruik nie normaal kon groei nie. “In ’n stadium moes ek daagliks 21 pille sluk.
“Maar dit is al so deel van my lewe dat ek geleer het hoe om daarmee saam te leef. Hopelik sal ons omstandighede ná die oorplanting verbeter.”
‘Mamma soek kleinkinders’
Nadat so veel as 80 mense in hul familie en wyer vriendekringe vir die Janse van Rensburgs hand opgesteek het om ’n nier te skenk, het allerlei toetse uiteindelik bepaal dat sy ma die mees gepaste skenker is.
Op haar beurt, sê Gerda, het sy al op 45-jarige ouderdom 36 kg oor ’n tydperk van agt maande afgeskud met die oog op die nieroorplanting.
“Dit wys jou net die wonderwerke wat kan gebeur wanneer ’n lewe op die spel geplaas word. Tiaan is al siek sedert ek swanger was met hom. By geboorte het die dokters hom ’n lewensverwagting van ses maande gegee. Maar hier sit ons 23 jaar later.”
Haar gewigsverlies is te danke aan wonderwerkende persoonlike afrigters met ’n getroue CrossFit-roetine en goeie dieet.
Uiteraard, meen Gerda, voer sy en haar gesin ’n bitter stryd met die lewe, maar bly tog dankbaar.
“Ek vra nie die Here ‘waarom’ nie. Hoe bid ek as ma dat iemand anders moet sterf, sodat my kind mag lewe?” vra Gerda haarself af toe sy oor die oorweldigende skaarsheid van orgaanskenkers uitbrei.
“Hierdie dien net weer as bewusmaking van die groot nood wat daar buite is. By die hospitaal hoor jy van die honderdduisende mense wat wag op ’n orgaanskenker – en dít slegs by een hospitaal.
“ ’n Mens hoef nie dood te gaan om te mag skenk nie – jy kan lewend ander se lewe red,” meen sy.
Tiaan is sy ma baie dankbaar vir die kosbare geskenk.
“Ek is so bly dat my ma aan my ’n nier gaan skenk. Ek is só lief vir haar – sy beteken die wêreld vir my. Sy is ’n perfekte match – selfs die dokters sê ek sal nie ’n beter match vind as wat sy vir my is nie.”
”Ek het vir Tiaan gesê: ‘Ek gee jou my nier omdat mamma kleinkinders wil hê. Ek doen dit vir my kleinkinders’,” skerts sy.
Nóg skenkings nodig
Hoewel mediese versekering die nieroorplanting van sowat R1 miljoen dek, is ’n BackaBuddy-veldtog deur een van Stanley se kollegas, Pieter Langenhoven, begin.
“Ons maak bloot voorsiening vir enige onvoorsiende onkostes wat die mediese versekering nie sal dek nie,” sê Stanley.
Tiaan bly hoopvol dat die lewe sal verbeter.
“Ek is so geskok oor die hoeveelheid mense, selfs die wat ek nie goed ken nie, wat tou staan om aan my hul organe te skenk. Daar is selfs mense van oorsee wat ons bystaan. Dit is amazing!”
Vir nou wy Tiaan hom toe aan ’n goeie toekoms. “My toekoms bestaan uit harde werk vir ’n gesonde lewe.”
Besoek www.backabuddy.co.za/campaign/tiaans-kidney-transplant om ’n finansiële bydrae tot Tiaan se toekoms te maak.