Die vyf- en sesjarige leerders wat vanjaar in een van die Laerskool Bellpark se klasse is, het ’n interessante storie om te vertel.

Nie net is ’n ekstra klas spesiaal vir hulle geskep nie, maar hul klas het letterlik uit die as uit herrys. Vier jaar nadat ’n brand ’n graad R-klaskamer by die skool verwoes het, het die skool die splinternuwe klaskamer in sy plek oopgemaak.

“Alles in die klaskamer is splinternuut en ons is so trots dat die klas nou weer deel kan wees van die hele kampus met hul speelapparaat en maatjies wat nou weer bymekaar is,” sê Pierro Louw, skoolhoof.

Die klaskamer se opening sluit ’n donker tydperk vir die skool af.

“Iemand het ons skoolgrond op 18 Februarie 2020 om 05:00 onwettig betree,” sê Louw oor wat op daardie dag plaasgevind het.

“Een van die vullisdromme op wiele vol tuinvullis en blare is teen die klaskamer se muur getrek en aan die brand gesteek. Die opsigter het die vlamme gesien toe hy die skool kom oopsluit het, maar was onsuksesvol om die vlamme te blus.” (“Brand breek uit by Laerskool Bellpark,” 18 Februarie 2020).

Binne ’n maand

Die skool moes vinnig ’n plan maak en die leerders het vir die res van die jaar (saam met Covid-19 se ander ontwrigtings) in die biblioteek skoolopleiding ontvang.

Die jaar daarna het die skool met een minder Afrikaanse graad R-klas begin.

Die skool het in die afgelope tyd ’n groot vraag na Engelse klasse ondervind en vanjaar ’n ekstra klas in dié medium bekendgestel. Dié 30 kinders het tot nou toe in die biblioteek skool gegaan en het vroeër in Maart saam met Izmarie Tredoux, hul onderwyser, die nuwe klaskamer betree.

Louw sê hulle moes lank onderhandel om die klaskamer gebou te kry en het eers geglo die ou gebrande klaskamer sou afgebreek word en ’n nuwe opslaanklas sou opgerig word.

Ernst Stals, argitek by die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het die skool egter onlangs genader en aangebied om die klas oor te doen sonder om dit af te breek.

“Die kontrakteur het in Februarie vanjaar hier begin en die klaskamer binne ’n maand herstel.”

Die klas het ook nou ’n spesiale teddiebeer om hul daaraan te herinner dat hierdie ’n spesiale klas is.

Toe die klaskamer in 2020 gebrand het, het Deon Wentzel, ’n onderwyser by die skool, die beer gered en nou met die opening oorhandig.

Al die speelgoed wat uit die brand gered kon word, is aan minderbevoorregte skole geskenk. Hierdie projek is die “Beauty from ashes”-projek gedoop.

You need to be Logged In to leave a comment.