Ilze Lammers, PD Veldkornet en organiseerder, saam met haar gr. 5-span, die Berghane. van links is Merwe van der Rijst, Henry Wiedeman, Joshua Whyburd, Marnus Taljaard, Ilze en Harmen Lammers.

Die plaaslike jeug het meer as R17 000 ingesamel om bedreigde Afrika-pikkewyne te red.

Die jong lede van die Bellville Oom Vossie-Voortrekkerkommando het op 26 September bewys dat hulle nie net getrou is aan hul kulturele erfenis nie, maar ook diep omgee vir die omgewing.

Hierdie toegewyde jongmense het meer as R17 000 ingesamel om die bedreigde Afrika-pikkewyn van uitsterwing te red.

Die byeenkoms, wat om 17:30 by die Oom Vossie-terrein in Blomtuin begin het, vorm deel van die Voortrekkers se Afrikaans100-vieringe wat die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal herdenk.

Die Bellville-byeenkoms het begin met opgewonde deelnemers wat kilometers te voet, per fiets of skopfiets aangepak het.

‘n Fakkel van hoop

Die Trap Der Jeugd-projek behels ‘n simboliese fakkeloordrag oor Suid-Afrika en Namibië heen.

“Hierdie geleentheid het jong leiers aangespoor om deel te wees van iets groter as hulself,” vertel Ilze Lammers, die PD Veldkornet van die Bellville-kommando.

“Ons het gestreef na bewusmaking van die waarde van kultuur én omgewingsbewaring.”

Pierre Voigt, adjunkgebiedsleier vir Penkoppe en Drawwertjies in Kaapland, het die projek sterk ondersteun en die dringendheid van die situasie beklemtoon.

“As ons nie ingryp nie, gaan die Afrika-pikkewyn uitgesterf wees teen 2030,” waarsku Voigt.

“Die Voortrekkers trap nie net vir taal nie, maar ook vir die toekoms van biodiversiteit. Daarom is dit belangrik dat ons projekte soos dié van Dyer Island Conservation Trust ondersteun.”

Die geld wat ingesamel is, sal direk aan hierdie organisasie geskenk word, wat aktiewe pogings aanwend om seelewe aan die hele Suid-Afrikaanse kuslyn te beskerm.

Gemeenskapskrag in aksie

Die suksesvolle organisering van die Bellville-byeenkoms is te danke aan Lammers. Sy het, saam met haar span offisiere, die logistiek en koördinering van die Trap Der Jeugd in Bellville behartig.

Hul toewyding en deeglike beplanning het verseker dat die byeenkoms nie net glad verloop het nie, maar ook ‘n betekenisvolle ervaring vir elke deelnemer was.

Die projek beklemtoon jeugleierskap en verantwoordelikheid, terwyl dit geslagte en gemeenskappe verbind deur waardes soos respek, samewerking en deursettingsvermoë.

“Hierdie projek gaan nie net oor kilometers of simboliese fakkels nie,” verduidelik Lammers. Dit gaan oor die groter gesprekke rondom kultuur en dierebewaring. Die Bellville Oom Vossie-kommando se toewyding het nie net bygedra tot Afrikaans se nalatenskap nie, maar ook tot die bewaring van ons planeet se biodiversiteit. Met hierdie belewenis stel jong mense ‘n voorbeeld van hoe om globale uitdagings aan te pak deur aksie, waardegebaseerde leierskap en gemeenskapsgee. Die Trap Der Jeugd 2025 bewys wanneer gemeenskappe saamstaan, kan hulle werklik ‘n verskil maak – nie net vir ons taal en kultuur nie, maar ook vir die wêreld waarin ons leef,” aldus Lammers.

You need to be Logged In to leave a comment.