Bellville-biblioteek se dienste wéér tydelik beperk

Dienste by die Bellville-biblioteek sal beperk wees vanaf Maandag 3 Februarie tot Maandag 3 Maart, terwyl dringende ventilasieprobleme getakel word.


Dienste by die Bellville-biblioteek sal beperk wees vanaf Maandag 3 Februarie tot Maandag 3 Maart, terwyl dringende ventilasieprobleme getakel word.

Só het die Stad Kaapstad Donderdag 30 Januarie in ’n mediaverklaring bevestig.

Die biblioteek se industriële verhitting-, ventilasie- en lugreëlingstelsel (HVAC), wat suurstof, lugvloei en verkoeling aan die gebou verskaf, het onherstelbare skade gely as gevolg van aanhoudende vandalisme oor die jare.

Tog meen ’n vriend van die biblioteek, Ilze Swart, dat sy baie verbaas sal wees indien die lugversorging in hierdie finansiële jaar, wat op 30 Junie eindig, herstel sal word.

Warm somermaande

Die gebrek aan ’n ten volle werkende HVAC tydens die warm somermaande, lui die verklaring, maak dit moeilik om binnenshuise luggehaltestandaarde te handhaaf. Dit kan gesondheidsprobleme soos hitte-uitputting, dehidrasie en lusteloosheid veroorsaak.

Biblioteekdienste sal dus deur ’n kleiner personeelspan gelewer word, wat in nie-publieke areas met basies ventilasie werksaam sal wees.

Die saalbesprekingsfasiliteite sal steeds beskikbaar wees, aangesien hierdie areas met individuele lugreëlingstelsel toegerus is, wat behoorlike ventilasie verseker.

“Ons vra om verskoning vir enige ongerief as gevolg van die verminderde dienste by die Bellville-biblioteek terwyl die instandhouding van die HVAC-stelsel voltooi word.

“Die maatreëls wat geneem word, is noodsaaklik om die gesondheid en welstand van ons personeel en besoekers te verseker,” sê Francine Higham, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

“Ons besef dat die Bellville-biblioteek ’n gewilde en goed gebruikte biblioteek is, en daarom sal hierdie verandering in normale bedrywighede slegs vir ’n beperkte tyd wees.

“Ek waardeer die pogings van die biblioteekbestuur om steeds sekere dienste aan te bied.

“Ons waardeer die geduld van ons besoekers terwyl hierdie herstelwerk gedoen word en sien daarna uit om normale bedrywighede te hervat sodra die lugvloei- en luggehalteprobleme opgelos is.”

‘Al lankal telling verloor’

Swart vertel sy het al lankal telling verloor van hoeveel jaar hierdie somersluiting van die Bellville-biblioteek plaasvind.

“Elke jaar wend leners hulle tot ander biblioteke en keer nie terug na Bellville nie.

“Dit is een van die redes waarom die Bellville-biblioteek se sirkulasie so dramaties afgeneem het, en die naslaan-afdeling, wat 100 sitplekke het, skaars gebruik word.”

Sy sê sy is deeglik bewus van finansiële beperkings, “maar totdat die Stad in staat is om voldoende sekuriteit te verskaf, sal die HVAC-stelsel op die dak steeds gevandaliseer word, en die Stad sal sy geld mors.

“Brutale diewe is al in die helder daglig op die dak gevang. Sonder ’n doeltreffende en sigbare veiligheidsaanwesigheid sal vandalisme, diefstal en dwelmmisbruik biblioteekgebruikers verhinder om na ’n plek te kom wat hulle as gevaarlik beskou.”

Navrae is aan die Stad Kaapstad gerig om op hul beurt dié kommentaar oor die biblioteek se kwessies te bespreek. Terugvoer was nie betyds teen druktyd ontvang nie.

Beperkte dienste

Terwyl die herstelwerk aan die lugvloei- en luggehalteprobleme na verwagting teen einde Maart vanjaar voltooi sal wees, noodsaak die hitte in die biblioteek ongelukkig die sluiting van die hoofgebou.

Die biblioteek sal egter beperkte dienste bied, insluitend die volgende:

  • Besprekings;
  • Inter-biblioteeklenings;
  • Aflewering en afhaal;
  • E-pos-korrespondensie;
  • Eksterne programme (aangebied by kleuterskole, hospitale, ens.);
  • Saalbesprekings;
  • E-bronne sal 24/7 beskikbaar bly.

Nabygeleë biblioteke

Gedurende hierdie periode word besoekers aangemoedig om enige van die Stad se ander openbare biblioteke te besoek.

Alternatiewelik is die naaste biblioteke aan Bellville Biblioteek:


  • Bellville-Suid-biblioteek (3,3 km weg) – Kasselsveiweg, Bellville-Suid. Skakel 021 814 1169/70;


    Parow-biblioteek (3,7 km weg) – H.v. McIntyrestraat en Eerste Laan. Skakel 021 444 0940;


    Tygervallei-biblioteek (4,6 km weg) – onderste vlak, Tygervallei-sentrum, Bellville. Skakel 021 400 3451.


You need to be Logged In to leave a comment.