Bellpark groet hul leier – P.W. Louw

“Almal ken my as Pierro Louw in onderwysgeledere en vriendskapskringe en definitief nie as Pieter Wouter nie,” sê die Laerskool Bellpark se hoof aan die vooraand van sy aftrede as ou-skool skoolhoof.


“Almal ken my as Pierro Louw in onderwysgeledere en vriendskapskringe en definitief nie as Pieter Wouter nie,” sê die Laerskool Bellpark se hoof aan die vooraand van sy aftrede as ou-skool skoolhoof.

Ná 11 jaar in dié pos kyk Louw terug op altesaam 41 jaar in die onderwys.

Sy Curriculum Vitae getuig van onberispelike ervaring wat oor dekades strek.

Voorheen het hy as Bellpark se buurskool, die Laerskool Bellville-Noord, se adjunkhoof gedien ná vier jaar as ’n departementshoof by die Laerskool Stellenbosch, sowel as ’n posvlak-1-opvoeder by die Laerskool Panorama in Welgelegen.

“Voor dit was ek by die Hoërskool JG Meiring in Goodwood en my loopbaan het ek begin in die Koue Bokkeveld by die Laerskool Boy Muller.”

‘Hu-wil-ek’

Nou op die horison wawyd voor hom uitgestrek, wil Louw fokus op al die alledaagse dinge waarvoor hy nie sommerso die tyd kon afstaan nie.

“Ek sal maar eers pendel tussen Bellville en Velddrif waar ons ’n huisie het. Ek het ook ’n huwelik… hu-wil-ek geverf hê en hu-wil-ek ’n nuwe kas hê!” skerts hy.

Vir die afgelope 38 jaar is Bellville Louw se bodem, waarvan hy 32 jaar lank in sy Blommendal-tuiste vertoef.

“Ek gaan aanbly in my huis, want my vrou, Anneri, is ook nog in die onderwys as departementshoof by die Laerskool Panorama. My oudste seun, Roann, werk en bly in Wene, Oostenryk en ons probeer hom so elke tweede jaar besoek (met lekker gratis verblyf). En my jongste seun, Stéfan, is ook ’n departementshoof by die Laerskool Worcester-Oos en bly in Ceres saam met sy vrou, Johné, en kleinkind, Wian.”

’n Terugblik op die toppunt

Die toppunt van sy loopbaan ag Louw as die voorreg “om die kennis en ervaring wat ek in die onderwys opgedoen het met die res van my personeel te deel”.

Hy meen baie veranderings het in die onderwysstelsel oor die afgelope 40 jaar plaasgevind, “en die administrasie saam met die onderwys het verskriklik vermeerder, wat maak dat ’n skoolhoof minder tyd en aandag aan sy personeel, ouers en leerders in die skool kan skenk”.

’n Terugblik wat tot vandag nog ’n impak op hom het, kom uit die nie-só-onlangse dae van die pandemie.

“Die Covid-tyd rondom 2020 en die jaar daarna waar ek die Gr. R’e en hul ouers elke oggend by die hek inskandeer het as gevolg van ’n gebrek of tekort aan personeel, sal ek nooit vergeet nie. Dit is nou die leerders van gr. 3 en gr. 4 wie se name ek nou die beste, en wie se ouers ek ook nou persoonlik, ken (al is dit darem nou sonder maskers).”

Onthou om my te onthou

Toe Louw nadink oor die belangrikste ding wat hy as leier van Bellpark wou oordra aan leerders, antwoord hy: “Om my Christelike waardes, wat aansluit by die waardes van die skool, uit te leef en elke dag daarvolgens op te tree.

“Ek het ook die grootste respek, wat deel is van Bellpark se waardestelsel, vir ander gelowe en het skitterend saamgewerk met ander gelowiges om dan grootliks op die waardes van Bellpark te konsentreer.”

Die goue akker wat Louw aan sy plaasvervanger wil oorlaat is gegeur met sout van die aarde.

“Moenie belangriker probeer wees as die pos wat jy as skoolhoof beklee nie, maar neem die res van jou personeel, ouers en leerders in ag in besluite wat jy moet neem tot voordeel van die skool- en ouergemeenskap. Elkeen het dalk ’n unieke bestuurstyl, maar onthou om die mense rondom jou, soos jou bestuurspan en beheerliggaam, in alles te ken.”

Hy sal die ouers en veral die leerders as ‘n vriendelike klomp onthou.

“En ek het die leerders ook laat belowe dat hulle my moet kom groet – al sien hulle my ook op enige plek! Ek gaan die opvoeders en leerders baie mis, want ek hou van mense rondom my.”

Toe hy gevra is of sy leerders of personeel ’n spesiale bynaam vir hom gehad het, antwoord Louw: “Nie waarvan ek weet nie.”

Maar nou met tyd op sy hande gaan die voormalige skoolhoof sy fiksheid opskerp.

“Verder gaan ek meer fietsry om volgende jaar my 20ste Cape Town Cycle Tour (ou Argus) te probeer voltooi. Die oud-skoolhoofde-groepie wat rolbal speel het my ook al genader.”

Vir oulaas skryf Berk Uys, die voorsitter van Bellpark se beheerliggaam, die volgende ter ere van Pierro: “Sy passie vir onderwys, sy verbintenis tot die bevordering van sport en musiek, en sy visioenêre leierskap het ’n groot impak op die hele skoolgemeenskap gehad.”

You need to be Logged In to leave a comment.