Bekende sakeman van Brackenfell, Bessie Bester, sterf in botsing met tenkwa op die R27

’n Welbekende sakeman van Brackenfell, Bessie Bester (53), is gistermiddag om sowat 12:45 dood in ’n botsing met ’n petroleumgas-tenkwa op die R27 naby Mamre.


’n Welbekende sakeman van Brackenfell, Bessie Bester (53), is gistermiddag om sowat 12:45 dood in ’n botsing met ’n petroleumgas-tenkwa op die R27 naby Mamre.

Bester was die eienaar van die sakeonderneming Bessie Bester Vervoer.

Volgens die vragmotorbestuurder, wat nie ernstige beserings opgedoen het nie, het Bester glo beheer verloor oor sy Daihatsu Tirion verloor.  Hy is op die toneel dood verklaar. 

Die tenkwa, wat 10 000 liter hoogs vlambare vloeibare petroleumgas vervoer het, het in die pad omgeslaan en die hoë risiko toneel is met ’n radius van 3 km afgesper om ’n moontlike ontploffingsone te skep. 

Die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingspersoneel is dadelik na die toneel ontbied en moes binne die ontploffingsone werk om te verseker dat daar nie enige gas dampe vanuit die tenkwa gelek het nie. 

“Gespesialiseerde tegniese reddingstoerusting moes gebruik word om vonke te voorkom,” sê JP Smith, die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid. 

Reddingspersoneel het op die toneel gewag vir die kontrakteur om die petroleumgas uit die tenkwa te verwyder. 

Persone na aan Bester vermoed dat hy ten tye van sy dood onderweg was na Dwarskersbos waar sy ma woonagtig is.

Vanessa Da Costa, sy sakebestuurder, sê sy dood word deur die gemeenskap betreur. “Mense was lief vir hom. Hy was ’n groot man met ’n groot hart, ’n goeie ou. Hy was altyd bereid om mense in nood te help en daarvoor moet hy vereer word. Hy het baie hard gewerk, dag en nag om dié nuwe besigheid op die been te kry,” sê sy. 

Bester was vroeër die eienaar van die Withuis Sosiale Klub in Vredekloof, maar die besigheid was genoodsaak om sy deure toe te maak tydens die pandemie, nadat Bester vir bykans twee maande met Covid-19 in die hospitaal gekoppel was aan ’n ventilator. 

Huldeblyke het sedert gister op sosiale media ingestroom. 

“Bessie was ’n ‘legend’ in Brackenfell,” skryf Marie Antoinette Vos. Ook Liezl Rover Smith het haar meegevoel getoon: “Dis baie hartseer nuus. Hy was welbekend en baie geliefd in die noordelike voorstede. Baie sterkte aan sy familie. Ons dink almal aan julle.”

Rinette Maritz skryf:  “Bessie was die een wat ons kon vetrou om ons betyds by die lughawe te kry. Altyd stiptelik en vriendelik. Rus in vrede Bessie.” 

Bester word oorleef deur sy dogter Nicole (24), sy ma Magda, broer Francois, skoonsuster Letitia en hul twee dogters.

You need to be Logged In to leave a comment.