‘n Bekende gemeenskapswerker in Bothasig, Johanna Kotze, is verlede week in die ouderdom van 77 oorlede.
Kotze was die stigter van die bekende welsynorganisasie Locals Helping Locals in Leerdamstraat, Bothasig.
TygerBurger het ’n jaar gelede oor dié inspirerende vrou en haar organisasie berig. Kotze het die organisasie ’n dekade gelede op die been gebring nadat sy die nood gesien het waarin party mense, veral seniors wat van maatskaplike toelaes afhanklik is, hulself bevind. Huldeblyke vir haar het verlede week wyd oor sosiale media ingestroom.
Mario Borchards, voorsitter van die Bothasig-inwonersvereniging (BRA), sê hul organisasie het nóú met Kotze en haar span saamgewerk.
“Johanna was werklik ’n uitsonderlike mens – een in ’n miljoen.
“Sy het deernis en bedagsaamheid met enigiemand wat sy ontmoet het, uitgestraal; sy was altyd bereid om ’n oor of ’n helpende hand te verleen, om ’n geselsie aan te knoop en sy sou mense se gees ligter maak.
“Johanna het sorgeloos gegee, sonder om twee keer daaroor te dink. Sy het altyd die behoeftes van ander voor haar eie geplaas. Sy was ’n ongelooflik besorgde persoon, wat dikwels haarself opgeoffer het vir ander se onthalwe.
LEES | Die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier
“Ons gaan haar mis; sy was by baie geliefd,” sê Borchards.
Hy sê as ’n trotse inwoner van Bothasig was die BRA bevoorreg om haar as deel van die gemeenskap te hê.
“Johanna het deur haar werk met Locals Helping Locals, met ons kragte saamgespan en aan verskeie projekte gewerk. Hoewel haar organisasie hoofsaaklik op die ondersteuning van seniors gefokus het, het sy nooit haar rug op iemand in nood gekeer nie.
“Haar gunstelingwoorde was altyd, ‘Oukei Mario, ek sal ’n plan maak.’”
Borchards sê Bothasig en die uitgebreide gemeenskap van Wyk 5 (wat Bothasig, Edgemead, Richwood en Burgundy Estate insluit) het ’n ware reus verloor, iemand wie se impak nooit vervang sal kan word nie.
LEES | Bothasig organisasie Locals Helping Locals voed 63 in nood
“Bothasig is lief vir jou, Johanna. Jy mag dalk weg van ons wees in vlees, maar jou nalatenskap sal nooit vergeet word nie,” sê Borchards.
Kotze is verlede jaar by die BothasigBiz Women’s Day Celebration met die BothasigBiz Vrou van die Jaar-toekenning vereer.
Raadslid betreur haar heengaan
Miquette Temlett, wykraadslid, het ook haar hartseer oor die heengaan van Johanna betuig.
“Ek het haar in 2022 ontmoet toe ek ’n gasstoof oorhandig het wat deur ’n gasmaatskappy aan Locals Helping Locals geskenk is. Ek het haar daarna leer ken en ook geleer oor die wonderlike werk wat hulle doen.
“Daar was ’n spesiale lig rondom Johanna – ’n lig wat skerp geskyn het veral wanneer sy aan ander gegee het. Johanna het die moontlikheid in iets gesien waar ander die stryd gesien het. Sy het hoop gesien waar ander wanhoop gesien het. Johanna was ’n mooi mens, wat almal gewaardeerd, raakgesien en belangrik laat voel het.
“In ’n wêreld wat soms gehaas en te erg voel, het Johanna my herinner om stadiger te beweeg om vir ander om te gee. Haar bedagsaamheid was onwrikbaar en haar toegewydheid en liefde ongeëwenaard.
“Johanna, jou werk is klaar, maar jou nalatenskap sal vir ewig in almal wat jou geken het se harte voortleef. Dankie dat jy aan ons getoon het wat dit is om om te gee,” sê Temlett.
’n Gedenkdiens is Dinsdag in die NG kerk Bothasig in Nassaustraat vir Johanna gehou.


