Die feestyd is verby en dit is nou tyd om van al daardie lastige vetjies ontslae te raak.
Só sê Koby Michaels, swem-afrigter by die Blue Downs-swembad. Michaels bied elke week klasse by die swembad aan.
“Ons bied veral die swemklasse vir bejaardes aan om hulle fiks en aan die gang te hou. Ons doen alles op ’n prettige manier en elkeen doen net waartoe hy of sy in staat is en niks meer nie,” sê Michaels.
Volgens Michaels sit baie bejaarde mense net by die huis en doen niks, terwyl hul kinders en kleinkinders aangaan met hul lewe. “Hier by ons word vriendskappe gesmee, terwyl almal probeer om pret te hê. Die lekker ding is dat jy fiks word jy terwyl pret met vriende het. Ek dink daar is ’n groot leemte, veral vir volwassenes in ons gemeenskap, om iets te kry waarmee hulle hulself kan besig en gesond hou,” sê Michaels.
Hy is bly dat vanjaar se groepie aansienlik groter is as verlede jaar s’n.
“Groeplede vertel ander en so groei ons jaar op jaar. In hierdie stadium het ons nog nie ’n plafon waarna ons mik nie, so daar is plek vir nog mense,” sê hy.
Indien jy belangstel om by Koby en sy groep aan te sluit, stuur vir hom ’n WhatsApp-boodskap na 083 417 7995.