In 1994, toe Ronel de Jager die beheeraanklaer by die Parow-streekhof was, het sy ’n hartverskeurende patroon begin raaksien – kinders wat as getuies hof toe kom, kom dikwels honger en dors.
Hulle moes dikwels ure in die hof deurbring sonder ’n maaltyd. Dit het De Jager geïnspireer om iets daaraan te doen.
“Ek het begin deur vriende te vra om iets ekstra in hul trollie te sit wanneer hulle inkopies doen,” vertel De Jager. Die eerste pogings was eenvoudig met ontbytstafies, pap en kitsnoedels – enigiets wat maklik voorberei kon word en nie vars was nie. Gou het die projek gegroei toe meer mense betrokke geraak het, en De Jager het begin om nie net die kinders by Parow se hof nie, maar ook by ander howe van kos te voorsien.
Oor die jare het die projek ontwikkel tot ’n gemeenskapsinisiatief wat veel verder as net kos strek. Bejaardes van die Jubileum- en Jabulani- aftree-oorde het begin om beertjies, serpe, mussies, kombersies en vroetelwurms vir die kinders te brei. Vanjaar het die groep verder gegaan en truie en handskoene bygevoeg.
Geskenkpakkies
Vir Kersfees het die bejaardes ’n groot uitdaging aangepak om 320 geskenkpakkies op te maak vir kinders wat Kerspartytjies by howe bywoon. “Hulle het nie besef dit is 320 kinders nie,” sê Ronel, “maar hulle het daarin geslaag om die teiken te haal”.
Elke pakkie het ’n waslap, seep, tandeborsel, tandepasta, lekkers en skyfies bevat.
Die sukses van die projek is moontlik gemaak deur die toegewyde ondersteuning van die aftreeoorde, skenkers en organisasies soos Philippi-vrugteverpakkers.
“Ons breiers en donateurs het almal ingespring om seker te maak ons slaag,” sê Linda Louw, die koördineerder van die breiprojek.
Op Donderdag 21 November is al die geskenke en ingesamelde items aan Laura Baartman, adjunkdirekteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap, oorhandig. Sy sal toesien dat alles regverdig tussen die howe versprei word. “Ons doel is nie net om kinders te ondersteun nie, maar om ’n bietjie warmte en vreugde in hul lewens te bring, veral tydens Kersfees,” sê Ronel.
Die inisiatief wys hoe ’n gemeenskap deur samewerking en liefde die lewe van ander kan aanraak en ware hoop kan bring.