Bejaarde vrou (82) glo by haar huis in Monte Vista vermoor

‘n Bejaarde inwoner is Donderdag (31 Oktober) dood by haar huis in Visagiestraat, Monte Vista aangetref.


‘n Bejaarde inwoner is Donderdag (31 Oktober) dood by haar huis in Visagiestraat, Monte Vista aangetref.

Die vrou was 82-jaar-oud.

TygerBurger het vertroulik verneem dat die oorlede kopbeserings opgedoen het.

Met die koerant se besoek aan die toneel omstreeks 11:00 was speurders en polisielede verbonde aan die Goodwood-polisie nog besig om die erf en huis vir leidrade te fynkam.

‘n Privaat-sekerheidsbeampte het buitekant die huis gesê dat hy die inwoner gereeld buite gesien het, dat sy hom altyd bedagsaam gegroet het en dat sy vriendelik was.

Familielede, vriende en bure het ook buitekant die huis gestaan.

Een familielid het aangedui dat hulle nie in die stadium met die media gaan praat nie. ‘n Plaaslike buurtwaglid het ook aangedui dat die familie saam met die polisie in die huis is en dat daar in die stadium nog niks rondom die voorval gesê kan word nie, aangesien die speurders nog met die ondersoek besig is.

´n Geel lint was by die oprit na die huis gespan. ‘n Lid van die polisie het ook buite die huis wag gehou.

Die straat en die omliggende gebied was Donderdagoggend tjoepstil, behalwe vir ‘n perdekar wat verby die huis gery het.

TygerBurger het navrae aan die Goodwood-polisie, sowel as Wes-Kaapse polisie gerig, maar wag nog op kommentaar.

Die moord is die tweede voorval vandeesmaand in die Monte Vista-gebied.

Vroeër is ‘n man buitekant ‘n kroeg in Camoens-rylaan afgemaai. Die persoon is herhaaldelik geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Nog ‘n bejaarde is ook in September by sy huis in Presidentsingel, Panorama tydens ‘n vermoedelike huisroof vermoor. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort, het die Wes-Kaapse polisie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.