’n Bejaarde egpaar van Parow is Woensdag 2 Augustus van R7 000 beroof nadat hulle die geld by ’n bank in Voortrekkerweg getrek het.

“Die bejaarde man het die geld by die bank getrek en op pad na sy voertuig het ’n onbekende man by hom en sy vrou in die motor geklim. Die onbekende man het hulle beduie hoe om na ’n spesifieke plek in Parow te ry,” het kapt. Kevin Williams, woordvoerder van die Parow-polisie, gesê.

“Toe die egpaar en die onbekende man by die plek opdaag, is hy deur vriende van die man in hul motor beroof. Die vriende het die bejaarde man die koevert met die geld gevra en hy en die onbekende man het die misdaadtoneel verlaat,” het Williams gesê.

Volgens Williams, het die bejaardes ’n klag kom lê en duur die ondersoek voort.

“Ek wil almal versoek om nie geld oor die toonbank by banke te trek nie. Plaas liewer geld op jou bankkaart en betaal jou rekeninge met die kaart.

As jy wel geld moet trek, doen dit by ’n kitsbank in ’n besige winkelsentrum,” het Williams gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.