’n Vrou van Belhar gebruik nou slaappille nadat sy glo deur ’n begrafnisondernemer en sy “vennoot” uit meer as R18 000 gekul is.

Marilyn Bondo sê sy en Blaise Lokumba Yolo, ’n Kongolese burger, was sedert 2014 ’n paartjie toe hy op Valentynsdag gesterf het. Yolo se familie het uit Kongo vir haar geld gestuur sodat sy die begrafnis kon reël, maar die meeste van die geld is glo verduister, terwyl Lukumba se begrafnis amper nie plaasgevind het nie.
Volgens Bondo het ’n vriend saam met ’n ondernemer by haar opgedaag en hulle het begin met die reëlings. “Die twee mans het by my huis opgedaag en ons het die reëlings bespreek. Op ’n ander dag het ek hulle by die Airport-winkelsentrum in Belhar ontmoet en die geld oorhandig. Die begrafnis is vir Dinsdag 20 Februarie beplan. Die een het gesê hulle is vennote,” sê sy.
Op die dag van die begrafnis het sy en ander by die kerk opgedaag, maar daar was nie ’n diens nie. “Die opsigter het gesê die kerk is nie eens bespreek nie,” sê Bondo.
Begrafnisondernemer
TygerBurger het met Gary van Wyk, een van die mans wat by haar was, kontak gemaak. Hy is ’n begrafnisondernemer van Elsiesrivier en sê hy het eers met die dood van Yolo die ander man leer ken.
“Hy is die een wat my genader het en gevra het of ek die mense kan help. Volgens hom was hy die bedroefde familie se regsverteenwoordiger en moes alle gesprekke deur hom gevoer word. Ek het nie ’n sent van die man ontvang nie, maar nou word my naam ook betrek.
“Hy het my solank aan ’n lyntjie gehou dat ek maar goed begin doen het soos die pamflette, omdat die begrafnis baie naby was. Op die dag van die begrafnis het die familie na my toe gekom en gesê daar gaan niks by die kerk aan nie, al het hulle reeds die geld aan die ander man betaal vir die huur,” sê Van Wyk.
Hy sê hy is die een wat uiteindelik die kastaiings vir die familie uit die vuur gekrap het. “Ek het hulle tot die beste van my vermoë gehelp. Ek wil dit duidelik stel dat ek nie die ander man ken nie. Hy was glo die familie se vriend. Ek steek niks weg nie. Dit was vir my hartseer om te sien hoe die mense wat reeds bedroef was, nog ingeloop ook word,” sê hy.
Regsverteenwoordiger
Peter Claasen, die sogenaamde regsverteenwoordiger, het teenoor TygerBurger erken hy het die begrafnis namens die familie gereël. Nadat hy aanvanklik ontken het daar was ’n drama met die begrafnis, het hy op ’n vraag of hy die geld aan die ondernemer betaal het, geantwoord: “Nee nog nie.”
Hy het belowe dat die geld vandag, wanneer “hy terug in die Kaap is”, betaal sal word. “Die geld was te min en nie die volle bedrag nie.”