Bedrywighede by Bellville-biblioteek hervat

,

Nadat die Bellville-biblioteek se dienste vir sowat twee maande beperk was terwyl dringende werk uitgevoer is om ventilasieprobleme te herstel, het die Stad Kaapstad verlede week bevestig dat alle dienste […]


Nadat die Bellville-biblioteek se dienste vir sowat twee maande beperk was terwyl dringende werk uitgevoer is om ventilasieprobleme te herstel, het die Stad Kaapstad verlede week bevestig dat alle dienste hervat word.

Die herstelwerk aan die biblioteek se verhitting-, ventilasie- en lugversorgingstelsel (HVAC) is steeds aan die gang, maar aangesien die weer begin afkoel, beteken dit dat die fasiliteit nou in staat is om die vereiste binneluggehaltestandaarde te handhaaf.

Die HVAC-stelsel het onherstelbare skade gely as gevolg van herhaalde vandalisering oor ‘n langer tydperk. Kontrakteurs was die afgelope twee maande op die terrein om herstelwerk te doen en lugvloei- en luggehalteprobleme op te los.

Gedurende die spits-somerperiode het die biblioteek beperkte dienste gelewer, maar die volle diensaanbod is intussen hervat.

Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, Francine Higham, spreek waardering uit teenoor besoekers en die publiek vir hul geduld en volgehoue ondersteuning gedurende hierdie tydperk.

“Bellville-biblioteek is een van ons vlagskipfasiliteite, en die Stad moet voldoen aan gesondheids- en veiligheidstandaarde. Die kontrakteurs sal steeds vir ‘n rukkie op die terrein bly, maar toestande het genoeg verbeter sodat ons die deure vir die publiek kan oopmaak en sake soos normaal kan hervat,” meen Higham.

‘Gereelde besoekers, kom terug!’

‘n Vriend van die biblioteek, Ilze Swart, vertel vir TygerBurger sy het Vrydagoggend besoek afgelê om voorbereidings vir hul boekverkoping te tref.

“Die biblioteek is weer oop met al sy dienste wat weer beskikbaar is. Uiteraard sal dit nou ‘n tydjie neem voor die biblioteek se gereelde besoekers daarvan bewus raak en aktiwiteite soos die boekverkoping terugkeer na normaal,” sê sy.

Op haar beurt moedig Higham die publiek aan om behulpsaam te wees met die Stad se mandaat om die biblioteek en ander gemeenskapsfasiliteite te beskerm.

“Ons kan dit nie bekostig om verdere skade aan ons HVAC-stelsel te ly nie, so indien u enigiets verdags opmerk, rapporteer dit asseblief dadelik, óf by die Suid-Afrikaanse polisiediens, óf by die Stad se openbare noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700.”

Bellville Biblioteek is oop vir die publiek:

09:00 – 18:00 op Maandae tot Donderdae

09:00 – 17:00 op Vrydae

09:00 – 13:00 op Saterdae

You need to be Logged In to leave a comment.