’n Beampte by die polisie se openbare orde-eenheid sê hy voel hy kan elke dag siek wees, sodat hy nie hoef werk toe te gaan nie.
Die eenheid was onlangs in die nuus toe Ian Cameron, die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, ’n verrassingsbesoek aan die eenheid gebring het. Ná sy besoek het Cameron ’n verdoemende verslag gegee oor wat by die Faure-basis in Eersterivier, waar die eenheid gesetel is, aangaan.
Volgens Cameron is meer as 60% van die voertuie op die basis buite werking.
“Wat ons gevind het, was ’n eenheid sonder die meeste van die hulpbronne,” het Cameron gesê.
Van die ander goed wat Cameron gesien het, was dat slegs 29 van die 96 voertuie loop, 10 van die 14 pantservoertuie met waterkanonne staan, en dat 275 van die nuwe rekrute, wat in 2023 aangesluit het, slegs 60 stukke beskermende drag moet deel. Dit sluit kopskerms in.
So erg gaan dit glo op die basis dat diewe in 2024 ingebreek en vuurwapens gesteel het. Met Cameron se besoek het beeste by die perseel ingeloop.
Die beampte, wat op voorwaarde van anonimiteit met TygerBurger gepraat het, sê hy wil graag hê die gemeenskap moet weet hoe dit regtig voel om vir die eenheid te werk. “Aan die begin was ek baie lief vir my werk. Dit was my passie, maar deesdae voel ek gedurig gedemoraliseer. Wat eens ’n gefokusde eenheid was, is nou nie meer nie. Ons word nie betaal vir oortyd nie en ander toelaes is ook weggevat. Om te dink ons, wat vir ’n spesialiseenheid werk, is slegter af as die ouens by die polisiekantoor,” sê die beampte.
Hy sê die moraal is baie laag. “Die mense wat bo in beheer is, voel nie vir ons wat al die werk doen nie. Ek was altyd opgewonde om werk toe te gaan, maar nou wil ek elke dag siekverlof neem,” sê hy.
Intussen het die Wes-Kaapse polisiehoof, lt. gen. Thembisile Patekile, gesê dit is nie nodig om die weermag in Kaapstad te ontplooi nie, nadat onlangs vrygestelde misdaadstatistieke wys dat daar tussen Oktober en Desember 263 bendeverwante moorde gepleeg is.
“Die bendes soek net status en ons wil hulle nie daardie status gee nie. Ons gaan net teen hulle veg en hulle moenie die mag van die staat uitdaag nie. Hulle is nie op die vlak waar jy die weermag moet inroep nie,” sê hy.
Ná Patekile se uitspraak het Cameron gevra vir ’n vergadering met hom en die nasionale polisiehoof.