In vanjaar se interskole-stryd teen die Hoërskool Durbanville troef die Hoërskool Stellenberg se o.19-hokkiespan die veld met ’n geheime wapen – die 15-jarige Bea van den Berg.
Dié jong meisie van Eversdal is voorwaar volmaak geskape om enige opponent op die sportveld kaf te draf en toeskouers op hul tone te hou met jare lange ondervinding van die spel.
Van kindsbeen
“Ek speel hokkie van gr. R af, maar wat my in die sport laat bly het, was die familie wat ’n mens kan bou met een span,” vertel Bea.
“Ek het van my lewenslange vriende deur hierdie sport ontmoet.”
Sy is hoogs gesog op haar ouderdom en betree die veld met Suid-Afrikaanse kleure in hokkie.
“Die dag toe ek SA-kleure verwerf het, was die laaste dag van die o.16- interprovinsiale toernooi in Bloemfontein. Maande voor dit is ek gekies vir die WP se o.16A-span. Sedert daai eerste oefening het ek geweet ek wil SA-kleure verwerf, dat ek gaan hard werk en enigiets sal doen om daardie droom te bewaarheid,” sê sy.
Bea is mal oor die gevoel wat sy ervaar wanneer sy hokkie speel – “die passie, die energie op en van die veld, die wind in jou hare teen die spoed wat ’n mens hardloop.”
Hokkie bly tops
Bea bestempel haarself as hoogs sportief en as die skakelspeler vir Stellenberg se premier-hokkiespan.
“Ek is lief vir oefen. Ek het al WP-kleure vir spiesgooi verwerf. In die laerskool het ek netbal en tennis gespeel, maar ek is die beste in hokkie.”
Haar sterkpunte skryf sy toe aan spoed en die manier waarop sy die spel lees en analiseer.
“Ek is redelik sterk gebou – te danke aan my ouers. Ná jare van hokkiespeel en die deit dat ek meeste van my tyd daarop spandeer, sou ek sê my hand-oogkoördinasie is redelik fyn ingestel.”
Bea meen nie juis dat haar fiksheid van nature kom nie, maar bloot bestaan omdat sy so baie tyd op die veld deurbring.
“Ek doen nie regtig baie oefening buite my skoolhokkie nie, omrede ek so baie hokkie speel, maar as daar lang periodes tussen hokkieseisoene is, sal ek my fiksheid probeer behou deur te gaan draf en basiese oefeninge te doen deur na YouTube-video’s te kyk.”
Inteendeel, fiksheid is een van haar grootste uitdagings – “dít, sowel as die druk wat soms geweldig erg raak, beide op en af die veld.”
Meer as net ’n sport
Wat van ’n mens ’n goeie hokkiespeler maak, is volgens Bea pure liefde vir die sport.
“Dit is wanneer dit meer as net ’n sport vir jou is – wanneer jy nie weke lank kan deurgaan sonder om aan ’n hokkiestok te raak. Dis vir mense wat hard werk; nie net wanneer toeskouers kyk nie, maar ook in hul vrye tyd vir hulself.”
Wat inspireer haar om met so baie dryfkrag op die veld uit te draf?
“Ek dink net my liefde vir die sport is só groot dat ek net myself wil verbeter ná elke wedstryd en ná elke oefening. Ek is vasberade om my drome waar te maak en ver te kom.
“My familie is my grootste ondersteuners en moedig my altyd aan en is bereid om my, tot die beste van hul vermoë, by te staan en aan te moedig langs die veld. Ek hoor hulle altyd. Dis hul stemme wat my vinniger laat hardloop.”
Tog moet haar akademie altyd eerste kom. Haar gunstelingvak op skool is Engels.
“Ek is nou nie die skerpste potlood in die pakkie nie, maar ek probeer altyd my bes,” skerts sy.
Bea is al baie gevra wat haar stokperdjies buiten sport behels, “en elke keer maak ek goed op, maar soos ek vrye tyd het, lê ek snoesig in my bed met ’n goeie fliek aan en my kat wat styf langs my lê, met ’n lekker koppie tee in die hand”.


