Om alles te kroon het dié span die interprovinsiale o.12-toernooi gewen wat op 28 en 29 September by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdale plaasgevind het.
Dit moet iets in die water wees waar David Simon, Liam Burger, Myburgh Louw en Keanu Bekker in ’n radius van ’n kilometer van mekaar af bly in Brackenfell, want dié vier 12-jariges speel kookwater-rugby.
David speel binnesenter vir Bastion se eerste span, Keanu flank, Myburgh buitesenter en Liam vasskopstut.
“Dit was baie moeiliker as om rugby vir die skool te speel,” vertel Liam. Hulle het hul nuwe spanmaats, wat van skole oor die Wes-Kaap heen kom, agt weke voor die interprovinsiale toernooi ontmoet en slegs 32 ure saamgeoefen voor hul eerste wedstryd.
David voeg by: “Ek is baie trots oor hoe ver ons gekom het.”
Myburgh se “Plan B” is om sy eie sakeonderneming te begin. Liam wil ’n argitek word, Keanu ’n prokureur en David “wil musiek maak en dalk ’n jazz-klub besit”.
Met slegs nog ’n jaar oor op laerskool, is die kanse goed dat die seuns se paaie in 2020 sal skei wanneer hul hoërskool toe gaan.