Die bandehandelaar Point-S Kuilsrivier sê hulle wil graag motoriste waarsku oor ’n moontlike misdaadtendens.

Gwen Truter van Point-S Kuilsrivier sê die afgelope twee maande het baie klante by hulle opgedaag met lemmetjies in hul motors se bande.

“Motors kom in met vier tot vyf van hierdie lemmetjies, wat in die bande vassit. Dit lyk soos hakiesdraadlemmetjies of soos die van ’n Stanley-mes. Die afgelope twee maande was daar seker al 40 of meer gevalle wat motoriste hier by ons aangekom het.”

Truter sê van die gebiede waar die lemmetjies op die pad was, sluit Soneike, paaie naby die Kuilsrivier-stasie en die Stellenbosch-hoofverkeersweg in. 

“Dit sny so diep dat die band vervang moet word. As dit erg is, moet mense ook langs die pad stilhou, wat gevaarlik is.”

Truter sê ’n paar jaar gelede het hulle gereeld stukke tuinslang met ’n spyker gesien waarmee motoriste geteiken is, maar die lemmetjies blyk nou die jongste skelmstreek te wees.

TygerBurger het by die polisie navraag gedoen of hulle bewus is van die tendens en of daar moontlik gevalle aangemeld is van motoriste wat beroof is nadat hulle moes stilhou weens ’n pap wiel. 

AO Liesel Beukes, woordvoerder van Kuilsrivier-polisie, sê volgens hul misdaadintelligensie-eenheid is geen gevalle aangemeld nie. Sy sê hulle het wel opgemerk dat daar tydens die reënseisoen ’n paar voorvalle, spesifiek op die R300-snelweg, was waar klippe in die pad geplaas is. 

You need to be Logged In to leave a comment.