Motoriste se spoed wek kommer: inwoners eis ingryping

Honderde aansoeke vir die daarstel van spoedkalmeringsmaatreëls, wat daarop gemik is om motoriste se spoed te beperk, word maandeliks van reg oor die stad ontvang.


Honderde aansoeke vir die daarstel van spoedkalmeringsmaatreëls, wat daarop gemik is om motoriste se spoed te beperk, word maandeliks van reg oor die stad ontvang.

Dié inligting is op die Subraad 7-vergadering verlede week met raadslede en die publiek gedeel.

Die maatreëls sluit in die installering van spoedwalle, spoedkameras, verhewe stopstrate en verkeersirkels.

Wyk 1, wat Panorama, Plattekloof, Monte Vista, Welgelegen, Sonnendal en Kleinbosch insluit, is een van die wyke waar daar gereeld ’n aantal sulke aansoeke ontvang word, sê Cheryl Visser, wyksraadslid.

Aansoeke word ontvang vir byna elke vierrigting-kruising in die gebied, sê sy.

Van die strate waarvoor daar om spoedkalmering aansoek gedoen word deur die inwoners, sluit in Olienhout-rylaan, Plattekloofweg, Rothschild-boulevard, Uys Krige-rylaan, Gert van Rooyen-rylaan, Malmesburyweg, La Provence-weg, De la Fonteine-rylaan, Monte Vista-boulevard, om maar net ’n paar te noem.

Daar is ook verlede week genoem dat inwoners wat sulke aansoeke rig, soms kla oor die lang duur van die proses, maar wyksraadslede is meegedeel dat daar verskeie faktore ter sprake is by so ’n aansoek, wat in ag geneem moet word.

Aansoeke

“Die bestuur van Subraad 7 kommunikeer die aansoekproses met elke aansoeker. Sou ’n aansoek deur die subraad ondersteun word, word dit vir verdere ondersoek en keuring na die Stad Kaapstad se vervoer-, beplanning- en netwerkbestuur van die departement paaie en stormwater gestuur.

“Die proses verseker dat versoeke geëvalueer word op grond van die verkeersvolumes, ongeluksdata en ander relevante faktore.

“Die kernprobleem bly egter padgebruikers wat nie spoedbeperkings nakom nie, of by stoptekens stilhou nie.

“Spoedkalmeringsmaatreëls is een manier om veiligheid te verbeter, maar dit bly belangrik dat alle padgebruikers verantwoordelikheid neem vir hul padgedrag,” sê Visser.

Visser het ook op die vergadering verwys na ’n onlangse voetganger-ongeluk wat die lewe van ’n vrou geëis het.

Die voorval het op 31 Januarie op die hoek van Gert van Rooyen-rylaan en La Provence-weg plaasgevind.

Een vrou is oorlede en nog een is ernstig beseer toe ’n afleweringsvoertuig glo teen hulle gebots het terwyl hulle die pad oorkruis het.

Helga Easom, voorsitter van die Plattekloof, Welgelegen, Panorama en Kleinbosch (PWP)-inwoners- en belastingbetalersvereniging, sê motoriste versuim dikwels om by stoptekens in die gebied stil te hou.

Sy sê inwoners is kwaad oor dié verskynsel en eis dat spoedkalmeringsmaatreëls in plek gestel word om sodoende onverantwoordelike padgebruikers te dwing om stadiger te ry en stoptekens te respekteer.

Sy voeg by die Stad Kaapstad is van mening dat padgebruikers die reëls van die pad moet respekteer, maar dat dit klaarblyklik nie gebeur nie.

“Daar bygevoeg is PWP omring deur lang, reguit paaie wat bydra tot die onwettige resies op paaie, wat dikwels laataand gehoor kan word langs Plattekloofweg, Giel Basson-rylaan en die N1-snelweg.

“Uys Krige-rylaan, Rothschild-boulevard en Gert van Rooyen-rylaan wat ook deur Welgelegen en Panorama loop, is ook van die strate waar motoriste die spoedbeperking oorskry en stoptekens verontagsaam,” sê Easom.

Inwoners kan swak padgedrag en roekelose bestuur by traffic.services@capetown.gov.za aanmeld of skakel 021 480 7700 met klagtes of navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.