Ek wil my opregte dank betuig met ’n groot dankie aan ons munisipaliteit en gewillige instansies wat ons Brackenfell- en Durbanville-gebiede se dorpsingange, tuine en parke so mooi versorg.
Ek sien dikwels vrywillige werkers wat in Durbanweg die middelmantuin so mooi versorg en het groot waardering daarvoor.
Dit is net nie moontlik om in die besige weg stil te hou om ’n “dankie” of ’n donasie te gee nie. Is daar enige ander manier waarop motoriste ’n bydrae kan maak?
Baie dankie ook vir die kleurvolle speelapparaat wat in Yinlan-park aangebring is.
Dit is heerlik om ouers met hul kinders weer buite te sien speel.
’n Vriendin het my eenmaal ’n kunswerkie gegee met die woorde: “ ’n Vriendin kyk altyd jou stukkende heining mis om die blomme in jou tuin te bewonder.”
Dit is dan ook met hierdie gesindheid dat ek hierdie “dankie”- brief aan “wie dit mag aangaan” opdra. Baie dankie, jul moeite gaan nie ongesiens en ongewaardeerd verby nie.