Hy is in al wat ’n kosprogram is, maar Mandré Campher (23) sou dalk nooit sy passie vir kos ontdek het as dit nie vir babas was nie.
En nie een of twee babas nie, babas by dosyne!
Campher, van Loevenstein, is een van die deelnemers aan die nuutste Kokkedoor Vuur & Vlam-reeks wat tans op kykNET uitgesaai word.
Hier verstom hy weekliks met sy kalm geaardheid en kosvernuf, wat vele laat les opsê.
Dié jong sjef is al byna ’n bekende gesig in die wêreld van TV-koskompetisies, nadat hy Kookpunt gewen het en as ’n finalis in Sjefhuis (beide op VIA) te sien was. Hy was boonop ook onder die topdrie van One and Only se Reaching for Young Stars-kompetisie.
Hagar’s Choice
Maar weg van die skerms is hy ook lid van die Campher-gesin wat Hagar’s Choice bedryf – ’n plek van veiligheid vir babas en klein kindertjies.
Die Camphers het in 2014 saam besluit om weerlose babas in te neem totdat daar permanente verblyf vir die kinders gereël kan word.
Sy ouers, Barbara en Thinus, en susters, Eliska en Beulah, het al deur die jare meer as 113 babas ingeneem.
Hulle het ook ’n dogter in pleegsorg, Amber (18), aangeneem.
Dis juis deur Hagar’s Choice, wat by hul huis bedryf word, dat Mandré sy kostalente kon uitleef.
“Elkeen het ’n beurt gekry vir babasorg en elkeen het ’n rol in die huis gehad,” verduidelik hy. “Ek het gou die verantwoordelikheid oorgeneem van kosvoorbereiding.”
Jare se leer
Hy het al in sy tienerjare by kenners begin werkskadu. Daarna het hy vir drie jaar by die Capsicum Culinary Studio gestudeer. “Tydens my studie het ek elke geleentheid gebruik om my hande in ’n restaurantkombuis aan te wend – van La Colombe, Klein Jan in die Kalahari en dan my hoogtepunt, by die bekende Jan in Frankryk.”
Hy werk tans by die Sela Vie-restaurant op die Val de Vie-landgoed.
Vir Kokkedoor het hy onbetaalde verlof gehad sodat hy aan die verfilmingsproses in Struisbaai kon deelneem.
“Ek het al aan ’n hele paar kookprogramme deelgeneem en wat vir my anders was in Vuur en Vlam, was die geleentheid wat geskep is om goeie ‘braai’-manskap te wys en ons kon spog met ons Suid-Afrikaanse kosstyl.”
Hy het dit geniet om sy belangstellings met die ander deelnemers en produksiespan te deel. “Ook om die wêreldwye maniere van braai te kon uittoets.”
Hy hou nog sy asem op oor watter dele van die verfilming die TV-skerms gehaal het.
“Oor die algemeen was dit ’n baie lekker, positiewe ondervinding en ek het in die kompetisie baie geleer en goeie vriende gemaak.”


