Die Axios-vaardigheidskool in Eersterivier hou op Saterdag 30 November sy jaarlikse markdag by die skool.

Op hierdie dag word al die produkte wat die leerders deur die loop van die jaar gemaak het, te koop aangebied. Leerders gaan ook op die dag naels versorg en haarkapperdienste aanbied.

Volgens Jasen Arnoldus, adjunkhoof by die skool, is hierdie geleentheid ’n grote op die skool se kalender.

“Nie net is dit ’n toonvenster vir die vaardighede van ons leerders nie, maar dit gee ook die publiek die geleentheid om goeie gehalte produkte teen billike pryse te koop. Ons leerders fokus daarop om hoëgehalteprodukte te maak, want dit wat hulle hier leer, moet hulle in die buitewêreld gebruik om ’n inkomste te genereer wanneer hulle eendag hier weggaan,” sê Arnoldus.

Produkte wat te koop aangebied word, sluit in kopstukke vir beddens, houtwerk soos broodblikke, broodplanke, speseryrakke, tafels en stoele, asook staalwerk soos braairoosters, staalrakke vir jou kaggelhout, badkamerhangers en vele meer. “Ek kan jou belowe dat jy nie hier sal weggaan sonder om iets te koop nie. Ons kinders is regtig talentvol en as jy iets koop, vat jy ’n bietjie van ons skool saam met jou huis toe,” sê Arnoldus.

Op die dag kan mense ook aansit om ontbyt en middagete te eet. Hamburgers, slaptjips en boereworsrolle sal verkoop word.

Musiek sal ook heeldag die gees hoog hou.

Vir diegene wat in motors belangstel, bied die leerders in die paneelklopklasse ’n motorskou aan. “As ek sê daar is iets vir almal, bedoel ek dit,” sê Arnoldus.

Stuur ’n WhatsApp-boodskap na Arnoldus by 081 892 6265 vir meer inligting oor wat te koop aangebied word.

’n Pragtige kopstuk is deur die leerders gemaak.

Hierdie hout tafel-en-stoelstel kan by die markdag gekoop word.

Kort jy dalk ’n wasgoedrak?

’n Broodblik en ’n rooster kan saam met jou huis toe gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article