Van links is Winston Moses, Mark Johannes en Tich Lawrence van Aweh!

Credit: SYSTEM

As jy van ligte Afrikaanse musiek met baie hart en daai unieke Moederstad-geur hou, is die nuwe musiekgroep Aweh! se klanke nie iets wat jy wil misloop nie.

Dié drieman-musiekgroep het op 25 Mei sy eerste vertoning gegee voor ’n stampvol gehoor by Koffie-Terapi restaurant-teater in Tygervallei.

Die lirieke van hul oorspronklike liedjies soos “Dankie vir Mamma”, “Inner Vrede”, “Gamma GT” en “Trots Afrikaans” – geskryf deur die sanger en musikant Mark Johannes – vertel stories wat betower.

Die musiekgroep is in Maart vanjaar gestig toe Winston Moses, wat ’n musiekateljee in Parow besit, hom op ’n dag gevra het hoekom hy liedjies opneem en dan in die niet verdwyn met die liedjie en dit verlore gaan.

Mark, ’n inwoner van Kraaifontein, het die afgelope 14 jaar dan en wan saam met Winston musiek opgeneem.

“Ná een van ons produksiesessies het ek besluit dis nou tyd ‘to open shop’. Ek het hom gevra, ‘Stel jy belang om aan te sluit?’ en hy het dadelik ingeval. Ons het ’n kitaarspeler nodig gehad en hy het dadelik vir Tich Jean Pierre Lawrence voorgestel, ’n bekende en gesoute studiokitaarspeler van Goodwood.

“Al die musiek wat ons deur die jare opgeneem het, was deel van die padkaart wat ons tot hier gebring het,” sê hy.

Mark skryf al liedjies sedert hy 14 jaar oud is, maar sukses het gekom in 2014 toe een van sy liedjies “Bok Toi Toi” kykNET se oog gevang het en deur die kanaal opgeneem is.

Liedjieskryf, sê Mark, is ’n integrale deel van sy lewe.

Songs word enige plek, enige tyd gebore. Ek kan by die winkelsentrum wees, ry of stort en ’n melodie of liriek of albei sal by my opkom. Ek skryf altyd eers ’n liedjie weg van my instrument af. Dan ontwikkel ek ’n aanvoeling vir die struktuur, die tema en styl waarin ek graag wil hê die liedjie moet wees. Dan sal ek voor die klawerbord gaan sit en die melodie begin uitkerf.”

Mark se liedjies word geïnspireer deur die “lewe om ons”.

“Die lewe gebeur, so elke dag word ek geïnspireer deur iets anders. Ek glo ’n goeie liedjieskrywer moet minstens 50 liedjies skryf om te eindig met iets wat die moeite werd is om op te neem. Ek het honderde liedjies geskryf, maar is baie krities oor my eie skeppings, so baie min sal ‘kwalifiseer’ om dit in produksie en op die verhoog te maak.

“Ek geniet dit om liedjies te skryf wat stories vertel, veral stories wat die lagspiere prikkel. Ek besef dat ek nie op die verhoog met ’n orkes wil staan en sing nie, maar my liedjies met gehore in ’n intieme teateratmosfeer wil deel.

“Dit is ook dan hierdie koestering wat my gebring het tot hier, die stigting van Aweh! Ná veel oordenking is dit die enigste woord wat vir my opsom wat ek poog om te bereik met my musiek. Die gehoor moet ná ’n Aweh!-optrede huis toe gaan met ’n genoegdoening in hul harte. As ek hierin slaag, kan ek met reg sê soos die Kaapse skollie: “Aweh!, my ma se kind”.

  • Gaan luister na Aweh! se musiek by www.awehcpt.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article