By die Goodwood-kliniek is daar rede vir feesviering nadat Jane Mentu, liefdevol bekend as Aunty Jane, onlangs haar 40 jaar diens in die gesondheidsorgsektor voltooi het.

Mentu het in 1985 as ‘n jong algemene assistent by die kliniek begin werk en het in 1991 as apteekassistent by die Goodwood-daghospitaal aangesluit. Sy vertel dat sy destyds nooit kon voorsien het dat sy 40 jaar later nog steeds in diens sou wees nie.

“Destyds was die span klein en die gemeenskap nader aan mekaar. Ek het nooit gedink ek sou 40 jaar later nog steeds hier wees nie,” sê sy.

Volgens haar is dit veral die mense wat haar vir dekades gemotiveer het om te bly.

“Vir my was dit nog altyd oor die mense – my kollegas wat soos familie geword het en die pasiënte wat ek oor die jare leer ken het. Dit is ‘n roeping eerder as net ‘n werk.”

Een van haar mooiste ervarings is om gesinne oor verskeie geslagte heen te dien.

aunty Jane Mentu
Aunty Jane Mentu

“Ek het gesien hoe kinders grootword en later hul eie kinders bring. Dit wys dat ons ‘n vertrouensband opgebou het.”

Uitdagings trotseer

Oor die jare moes sy uitdagings in die gesondheidsorg trotseer – van medisynetekorte en nuwe siektes tot groot pasiëntgetalle. Tog het sy dit alles met kalmte en geloof hanteer.

“Ek het altyd probeer om kalm te bly, my geloof te vertrou en as span saam oplossings te vind,” vertel sy.

Die kliniek self het ook gegroei. “Daar is nou meer moderne toerusting en dienste, en die gemeenskap het meer divers geword. Maar die behoefte aan sorg en ondersteuning bly dieselfde – en ons is steeds hier vir almal wat ons nodig het.”

Geliefde kollega

Kollegas beskryf haar as ‘n steunpilaar. “Ons eer Aunty Jane, ons geliefde kollega, vir haar merkwaardige 40 jaar van toegewyde diens in die departement. Haar getrouheid, harde werk en liefde vir mense is ‘n kosbare skat vir ons kollegas en pasiënte. Sy is ‘n ware rolmodel en straal integriteit en volharding uit. Ons is dankbaar om haar in ons span te hê en vier hierdie ongelooflike mylpaal saam met haar. Sy is beslis ‘n bate vir die departement van gesondheid,” sê Naomi Mingo, gesondheidsbevorderaar by die Goodwood-kliniek.

Met vier dekades diens agter haar naam is Mentu steeds ‘n vaste deel van die Goodwood-gemeenskap se gesondheidsgeskiedenis en ‘n toonbeeld van toewyding en sorg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article