Met die aanvang van die atletiekseisoen vir skole, vier ’n oud-atleet van die Hoërskool DF Malan, Paul Visser, vanjaar minstens drie atletiekrekords wat ná 50 jaar steeds nie verbeter is nie.
Visser se swaer, Polla Roux, kon dié halfeeu lange triomf net nie ongesiens laat verbygaan nie en het breëbors met TygerBurger gesels.
“My swaer was in 1975 in matriek by DF Malan. Dit is vanjaar 50 jaar gelede. Hy het daardie jaar by die skool se atletiekbyeenkoms tye in die o.19-afdelings vir 100m, 200m, sowel as verspring, opgestel wat steeds staan.”
- In die 100 m het Visser ’n rekordtyd van 10,7 sekondes behaal;
- In die 200 m het Visser ’n rekordtyd van 22,15 sekondes loshande opgestel;
- En in die verspring het Visser ’n stewige 6,51 m gespring.
“Dit wil sê in 50 jaar kon sy tye nie verbeter word nie. Ek glo nie daar is by enige ander skool ’n rekord wat al 50 jaar geld nie,” spog Polla.
Die tye is deur die Hoërskool DF Malan se alumni-administrateur bevestig – en al drie bly onverbeter.
Sportprestasies
Nou in sy 67ste somer, vertel Visser meer oor die voetspore wat hy as ’n boorling van Bellville laat.
Visser onthou hoe hy by DF Malan se kleure-atletiekbyeenkoms in 1975 dié drie rekords op die ou Bellville-atletiekbaan in Voortrekkerweg in die kleure van die Oranje-span in die o.19-afdeling opgestel het.
“Ek was maar altyd bang ek ooreis my en het daarom veel eerder op spoed- en reflekswerk gefokus wat voorbereiding betref. Vandag, tot my spyt, omdat my hardloopstyl en bou die 200- en 400 m-wedlope beter gepas het.”
Hy het ook die WP-atletiekspan op o.17-, o.19- en senior vlak verteenwoordig.
“By ’n junior SA atletiekkampioenskap – ek dink dit was in die Pilditch-stadion – het die WP die besondere prestasie behaal deurdat ekself, Allistaire Heald en Gerald Roos (almal WP) al drie podiumplekke vir die 200 m ingeneem het.”
Diensplig
Gedurende sy diensplig het Visser Noord-Transvaal (nou Blou Bulle), SA Gekombineerde Magte en WP se o.20-rugbyspanne verteenwoordig.
“Ek het ook in die senior WP B-span ’n draai gemaak. Tydens my verblyf in Oranjemund het ek Noordwes-Kaap as vleuel vir ’n aantal jare verteenwoordig. Interessant, vir ’n provinsiale tuiswedstryd moes ek 1 200 km heen en weer reis!”
Atletiek vandag
Visser glo die invloed van hedendaagse wetenskap en tegnologie verhoog beslis die standaarde van sport, atletiek ingesluit.
“Die standaarde is volgens my beskeie opinie beslis hoër. My vinnigste tyd in die 100 m sou vandag veel ‘stadiger’ gewees het gegewe die aanwending van elektroniese metingstegnologie.”
As raad aan jong sportlui haal hy vir John C Maxwell aan (vrylik vertaal): “Die moeilikste ding van sukses is dat jy moet aanhou om ’n sukses te bly. Talent is net ’n beginpunt. Jy moet aanhou om daardie talent te ontwikkel.”
Om ’n suksesvolle sportman of -vrou te wees, meen hy, is ’n buitengewone hoeveelheid werk nodig.
“Met al die talent in die wêreld en min of geen inspanning nie, kan ’n mens verseker wees daardie persoon sal aansluit by die lang lys van talentvolle atlete wat dit nooit gemaak het nie.
“Wat hartseer is, is die feit dat soveel jong potensiële sterre nie tot hul reg kom as hulle ouer is nie. Watter rol speel ouers in die proses? Word daar nie te veel druk op jong atlete geplaas nie?” vra Visser homself af.
“Wanneer hulle oud genoeg is om self te besluit, is hulle miskien doodgewoon psigies te uitgeput om te volhard.”
Goeie ou dae
“Ek het matriek uit my ouerhuis in 8ste Laan, Boston, voltooi. In my matriekjaar is die rugby-interskole tussen DF Malan en die Hoërskool Bellville, ná ’n afwesigheid van etlike jare, weer ingestel. Hoewel die vooraf gunstelinge, het ons die stryd ongelukkig naelskraaps verloor.”
Hy onthou hoe hulle in sy DF Malan-dae darem Die Burger se voorblad gehaal het.
“Meer as 100 seuns het deurgeloop omdat hul hare te lank was. Ek was, nodeloos om te sê, een van hulle en my tugmeester was mnr. Grobbie Grobbelaar. Daar was ’n hele span tugmeesters,” skerts hy.
Visser vertel hoe wyle Pets le Roux gedurende sy hoërskooljare ’n bepalende rol in sy ontwikkeling as mens gespeel het.
“Gebore in 1957 in die Karl Bremer-hospitaal, het ek my eerste tree gegee in ons huis in 3de Laan, Boston. My pa (bekend as Jerry, maar eintlik Paulus) was inderdaad een van die eerste verkeersmanne van Bellville nadat hy die polisie vir die verkeersdienste verruil het.”
Sy ma, Joyce, was ’n sakevrou en het die Allwear-skoenwinkel oorkant die Hoërskool Bellville besit.
Toeka tot nou
Feitlik direk nadat hy sy studies aan die destydse Kaapse Technikon (hedendaagse CPUT) voltooi het, is Visser deur De Beers Namibië gewerf om as sportbeampte by hulle aan te sluit.
“Die skuif het ’n einde aan my atletiekloopbaan gebring. Aldaar het ek bekende atlete soos Daniël Haitembu (400 m) en Lazarus Kapolo (800 m) afgerig.”
Visser het intussen sy akademiese kwalifikasies aangevul en het destyds na die menslikehulpbronne-departement oorgeskuif.
“Dit was die begin van my lewenslange werkloopbaan in menslike hulpbronne – hoofsaaklik in die landboubedryf. Ek het so drie jaar gelede uitgetree en woon vir die afgelope 30 jaar in Citrusdal. Maar die Weskus roep!”
Deesdae is sport, as toeskouer, steeds sy gunsteling-belangstelling.
“Ek is en bly ’n Stormer. En as deelnemer hou ek myself fiks deur bergfiets te ry en dan ontwyk my tiende Kaapstad-fietstoer my nou ’n aantal jare.”