Leanda du Bruyn se grootste oomblik vanjaar was in April toe sy by die kampioenskap in Gqeberha as die Suid-Afrikaanse én Afrika-kampioen in driekamp aangewys is.
Leanda du Bruyn se grootste oomblik vanjaar was in April toe sy by die kampioenskap in Gqeberha as die Suid-Afrikaanse én Afrika-kampioen in driekamp aangewys is.

‘n Atleet van Bellville ryg sedert vroeg vanjaar die een na die ander WP-, SA en selfs Afrika-titels in atletiek, landloop, biathle en driekamp in.

Leanda du Bruyn (31) van Boston se jongste prestasie was toe sy op 16 Augustus by die WP Landloopkampioenskap in twee kategorieë in die afdeling vir senior vroue – die 10 km wen 4 km – as die kampioen aangewys is. Haar groot prestasie tot dusver vanjaar is egter toe sy op 6 April die Suid-Afrikaanse én Afrika-driekampkampioenskap in Gqeberha gewen het.

Sy was nie net net die kampioen in haar ouderdomsgroep nie maar is ook as die algehele wenner van al die vroue aangewys.

Dit is ook een van haar kosbaarste herinneringe omdat dit die eerste keer was dat haar ouers haar in ‘n SA-driekampkampioenskap sien deelneem het. Dit was die dag ook haar grootste ondersteuner, haar kêrel, se eerste deelname aan ‘n SA driekampkampioenskap, waarin hy vyfde in sy ouderdomsgroep was, sê sy.

Rits oorwinnings

Haar rits oorwinnings vanjaar het begin toe sy op 20 Maart as die Westelike Provinsie se 10 000 m-baankampioen in die afdeling vir senior vroue aangewys is.

Ander hoogtepunte was toe sy op 22 Junie as die WP-duathlon-kampioen in haar ouderdomsgroep, asook as algehele vrouewenner aangewys is.

Daarna, op 12 Julie, word sy as die SA duathlon-kampioen in haar ouderdomsgroep, asook as algehele vrouewenner aangewys. Op 3 Augustus wen sy die titel as die Wes-Kaap-biathle-kampioen in die afdeling vir senior vroue.

Gunsteling-tydverdryf

Du Bruyn, die atletiek- en landlooporganiseerder by die Hoërskool DF Malan, rig die landloopatlete af en gee die vak tegnologie vir graad 8-leerders.

Meeste atlete ken haar as Dada, ‘n bynaam sedert haar skooldae by die Hoërskool Tygerberg. “In ons oefengroep op skool het elkeen ‘n bynaam gehad. My pa was die afrigter en het iets korter of makliker gesoek wat hy in die hardloop kon gebruik. Hy het saam geoefen en sy asem was soms min,” sê sy laggend.

“Atletiek en landloop was my gunsteling-tydverdryf in die middae en soms in die oggende. Oefeninge saam met vriende is dinge wat ek nou nog aan terugdink. Ek het baie hard geoefen en gehoop om SA’s toe te kan gaan wat een of twee keer gebeur het, maar ek het nooit ‘n SA medaje gewen nie,” sê sy. Haar beste prestasie op skool was om vir die Wes-Kaapspan gekies te word.

Dit verg baie ure om te oefen, maar gelukkig, sê sy, hou haar kêrel ook van oefen.

Hoewel sy tans haarself afrig, beskou sy steeds vir Kobus Fourie wat haar in driekamp afgerig het toe sy daarmee begin het, as haar mentor. “Hy het my baie geleer en ek is bitter dankbaar vir hom,” sê sy.

“Een van die redes hoekom ek tans myself afrig, is omdat my program baie gebaseer word op hoe ek voel en wat my lyf kan hanteer tussen my werk deur. Daar is nie ‘n spesifieke skedule nie daar is altyd ‘n idee en soort van ‘n plan, maar dit hang af van wat ek waar die beste kan inpas,” sê sy.

Dit verg baie ure om te oefen, maar gelukkig, sê sy, hou haar kêrel ook van oefen. “Ons spandeer baie tyd saam, besig om te oefen – of ons nou gaan gym of fietsry; daarvoor is ek baie dankbaar. Dit verg goeie beplanning, maar ek weet ek mag dalk nie by alles uitkom nie en dit is ook ok. ‘n Mens kan net soveel in ‘n dag inpas, en môre is nog ‘n dag,” sê sy.

Ysterman-kompetisie

Du Bruyn wil aanstaande jaar aan die wêreld-driekampkampioenskap deelneem ,”as ek genoeg fondse kan kry”. Haar langtermyn doel is om aan ‘n Ysterman 70.3, of sogenaamde Halwe Ystermankompetisie deel te neem.

“By die skool wil ek ook meer leerders inspireer om aan atletiek en landloop deel te neem en hulle help om hul doelwitte te bereik,” sê sy.

As sy nie hardloop nie, ontwerp en maak sy graag klere, neem foto’s en doen digitale ontwerpe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article