“Ons moet dit wat ons het, oppas; ons grootste vyand is nie ’n politieke party, aktiviste en so meer nie, maar apatie,” het Ian Cameron, voorheen van die nie-winsgewende organisasie Action Society en tans by die DA, verlede Donderdagaand by die algemene vergadering van die Durbanville-sakekamer gesê.
Die bestaande uitvoerende komitee se termyn is op die vergadering, wat by Peppa Jack’s Tex-Mex Grill & Bar buite Durbanville gehou is, met ’n jaar verleng.
“Wat is dit wat ons onmiddellik kan toepas om ’n impak in ons omgewing te maak? Jy moet kies om iemand te dien. Dis ’n bepaalde keuse wat jy maak, en sê, ek is daar om mense te dien. In beginsel plaas jy jouself tweede,” het hy gesê.
Hoop of hopeloosheid?
“Vra jouself, is jy aan die kant van hoop of hopeloosheid? Daar is twee basiese beginsels – ons moet saamstem dat ons aan die kant van hoop is en dat ons hier is om te dien. Dis ’n doelbewuste besluit om te neem en jy moet eienaarskap daarvan neem, toegewyd daaraan wees en probleme pak. Vat eienaarskap van ’n probleem,” het hy gesê.
Cameron het die filosoof en humanitêre werker Albert Schweitzer aangehaal en gesê die doel van menslike lewe is om ander te dien, om deernis te toon en die wil te hê om ander te help. Ons moet nie net vir onsself leef nie,” het hy gesê.
Daar is agt praktyke wat mense kan inspan om ’n impak in hul gemeenskap te maak.
“Vra jouself, wat is die doel? Bepaal jou doel. Jy moet vir jouself doelwitte stel om daar te kom. Bepaal hoe jy jou sukses gaan meet en aanvaar aanspreeklikheid.
“Toe misdaad in Gauteng styg, het mense net hoër mure gebou. Maar jy kan nie net jou skouers optrek en sê dis iemand anders se probleem nie,” het Cameron gesê.
Beplan meedoënloos
“Beplan meedoënloos. Jy moet beplan in jou persoonlike lewe, jou werk en gemeenskap. Besluit vooraf wat is jou plan. Maak jou leuse ‘struktuur volg op strategie’, dan sal die res vanself kom,” het hy gesê.
Cameron het Schweitzer verder aangehaal en gesê slegs diegene onder ons wat regtig gelukkig is, is diegene wat gesoek en gevind het hoe om te dien.
Pieter Koen, voorsitter van die sakekamer, het by hom aangesluit en gesê mense kan nie in hul sitkamers sit en niks doen om betrokke te raak nie.
“Durbanville gaan in die volgende 10 jaar geweldig ontwikkel, veral met die nuwe lughawe in die vooruitsig. Ons gaan die dorp ná 10 jaar nie herken nie. Ons moet nie in ons kokonne sit en niks (aan probleme) doen nie,” het Koen gesê.
Hy het sakelui uitgenooi om by die sakekamer aan te sluit en betrokke te raak.
“Hoewel verskeie nuwe lede die afgelope jaar by ons organisasie aangesluit het, bly ledetal ’n bekommernis. Daar is krag in getalle, daarom sal lidmaatskapsgroei ’n fokusgebied in die komende jare bly.
“Ons moedig lede aan om met hierdie poging te help en nie-lede uit te nooi om saam met ons Durbanville great te maak,” het hy gesê.
Voordele
Koen het diegene wat betrokke is by die stig van ’n stadsverbeteringsdistrik (CID) in die Durbanville-sakekern vir hul toewyding en tyd bedank.
“Hierdie tweejaarproses behels die vestiging van grense, wat onlangs voltooi is, die opstel van ’n begroting, gevolg deur die betrekking van titelakte-eienaars vir ondersteuning.
“Ons hoop almal besef die voordele, veral met die uitdagings wat tydens en ná die Covid-pandemie ondervind is.
“Durbanville-Sakekamer ondersteun hierdie projek ten volle, aangesien dit veiligheid, netheid en algehele welstand vir besighede en inwoners sal bevorder,” het hy gesê.
Die sakekamer beoog om in Augustus sy eerste vroue-geleentheid aan te bied en beplan reeds daaraan. ’n Sakeleier van die Jaar-kompetisie sal ook einde vanjaar aangebied word – die eerste sedert 2021.
- Ledegeld per persoon om aan te sluit by die Durbanville-Sakekamer is R850 per jaar. Stuur ’n e-pos na info@durbanvillesakekamer.co.za met verdere navrae.




