Marius Erasmus, skoolhoof (middel agter), van die personeellede en leerders, met die groot verjaarsdag wat Vrydag gevier is. FOTO: Marika Smit


Die Alta du Toitskool het op Vrydag 12 Julie 60 jaar oud geword en daar is ordentlik met koek, konfetti en musiek gevier.

Die skool voorsien nou reeds ses dekades lank die nodige opleiding en ondersteuning om leerders met intellektuele uitdagings te help om tot hul volle potensiaal te kan ontwikkel.

Oor die jare het die skool sportvelde, gimnasiums, ’n swembad, rekenaarsentrum, speelgronde, ’n terapie-sentrum en verskeie ander fasiliteite by gekry wat moontlik gemaak is danksy ondersteuning van die gemeenskap, toegewyde personeellede en lede van die beheerliggaam, sê Marius Erasmus, skoolhoof.

Erasmus sê Alta du Toitskool se grootste prestasie oor die 60 jaar is egter die verskil wat die skool in die lewe van hul leerders maak.

Samekoms

Die mylpaal-verjaarsdag is Vrydag met ’n samekoms in die skoolsaal gevier waartydens al die leerders en personeellede verras is met ’n spesiale T-hemp as simbool van eenheid en dankbaarheid vir 60 jaar waarin leerders se lewens en toekoms verander is.

LEES OOK: Hoof van Kuilsrivier-skool glo in werkskepping vir gestremdes

Die leerders het die skoollied en “Happy Birthday” twee keer gesing terwyl personeellede wat reeds meer as 25 jaar in diens by die skool is by Erasmus en die bestuurspan op die verhoog aangesluit het.

Die koek word hier gesny deur (van links) Heine Muller (langsdienende personeellid), Marius Erasmus (skoolhoof), Christene Gertze, Regina Joshua, Mariana Rademeyer en Elma Horn, almal personeellede wat ook vanjaar 60 word.

Erasmus, Elma Horn, Mariana Rademeyer, Regina Joshua, Christene Gertse, (personeellede wat vanjaar 60 word) en Heine Muller (langsdienende personeellid) het die koek gesny terwyl die res van die personeel en leerders saam met opgewekte musiek gedans het.

LEES OOK: Passie vir onderwys laat haar onderwys kies

Elma Horn, Emma Laubsher, Gisela van Schalkwyk en Pearl van Schalkwyk het ’n pragtig versierde koek voorberei wat gesny en aan die leerders uitgedeel is.

Die hoop is uitgespreek dat die skool sal aanhou groei, sal floreer en ook toekomstige generasies sal inspireer.

Kom vier saam

Die vieringe is egter nog nie klaar nie. Om Alta du Toitskool se belangrike werk te ondersteun, word ’n oggend vol inspirasie op Saterdag 27 Julie van 09:00 tot 12:30 by die skool aangebied.

Martelize Brink, bekende radio-omroeper, is die seremoniemeester.

Sy gaan met Howard Warrington, huidige Guinness-wêreldrekordhouer vir die meeste voltooide swemtogte tussen Robbeneiland en Bloubergstrand, gesels oor wat hom aanspoor.

Die Alta du Toitskool se eie Marimba-orkes en Jak de Priester gaan gaste vermaak. Gaste is ook genooi om meer te leer oor die ontstaan en die inspirerende werk wat by die skool gedoen word.

Die dragkode is gemaklik, maar stylvol. Kaartjies kos R400 en sluit tapas en wyn in.

Kontak Wendy Homann by donations@altadutoit.co.za of 021 903 4178 vir meer inligting.

Bespreek by Quicket (Alta du Toit’s 60th). As jy dit nie kan bywoon nie, kan ’n donasie ook deur Quicket gemaak word.

You need to be Logged In to leave a comment.