Howard Warrington het reeds meer as 180 keer die swemtog tussen Robbeneiland en Bloubergstrand voltooi.


Vir reeds 60 jaar verskaf die Alta du Toitskool in Kuilsrivier die nodige opleiding en ondersteuning om leerders met intellektuele uitdagings te help om tot hul volle potensiaal te kan ontwikkel.

Met ’n kurrikulum van 80% praktiese werk en 20% teorie leer die leerders lewensvaardighede aan om hulle te help om suksesvol by die samelewing te kan inskakel.

Om die mylpaal van ses dekades te vier en die skool se belangrike werk te ondersteun, word ’n oggend vol inspirasie op Saterdag 27 Julie van 09:00 tot 12:00 by die skool aangebied.

Martelize Brink, bekende radio-omroeper, is die seremoniemeester.

Sy gaan met Howard Warrington, huidige Guinness-wêreldrekordhouer vir die meeste voltooide swemtogte tussen Robbeneiland en Bloubergstrand, gesels oor wat hom aanspoor.

Die Alta du Toitskool se eie Marimba-orkes en Jak de Priester gaan gaste vermaak.

Gaste is ook genooi om ’n toer deur die skool mee te maak om meer te leer oor die ontstaan en die inspirerende werk wat daar gedoen word.

Die dragkode is gemaklik, maar stylvol. Kaartjies kos R400 en sluit tapas en wyn in.

Kontak Wendy Homann by donations@altadutoit.co.za of 021 903 4178 vir meer inligting.

Bespreek by Quicket (Alta du Toit’s 60th). As jy dit nie kan bywoon nie, kan ’n donasie ook deur Quicket gemaak word.

You need to be Logged In to leave a comment.