BloemNuus

Al die pad Paarl toe in AFRIKAANS

Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer het vandag via Bloemfontein getoer en kom Vrydag 2 Mei in die Paarl aan waar die taal se 100ste verjaardag as amptelike taal volgende week op 8 Mei gevier sal word.

Rodé Ellis en haar seun Chris-Tiaan (5) het ook hul ondersteuning kom wys. Credit: Lientjie Mentz

Met die viering van Afrikaans wat Donderdag 8 Mei 100 jaar oud is, het ‘n reis met nege reuse-letters wat “Afrikaans” uitspel, vandag in Bloemfontein aangedoen.

Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer wat vanoggend vroeg by Sol-Tech se kampus in Centurion vertrek het, sal Vrydag in die Paarl aankom waar die amptelike feestelikhede ter viering van die 100 jaar van Afrikaans vanaf 8 Mei gevier sal word.

Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer het Donderdag in Bloemfontein aangekom. Annelien Diedericks het namens Naln ‘n groeteboodskap aan die toergroep oorgedra. Hier van links is Charné Mostert, Diedericks, Pieter Cloete en Carien Bloem. Foto: Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

‘n Vragmotor met die reuse-letters vergesel van ‘n span van die Solidariteit-beweging waaronder AfriForum en Solidariteit ry vandag en môre die 1 400km tot in die Paarl. Hulle het vandag in Kroonstad en Bloemfontein aangedoen waar hulle ingewag is deur geesdriftiges wat foto’s geneem het en hul liefde vir Afrikaans as taal beklemtoon het.

Annelien Diedericks het namens die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) ‘n groete-boodskap en ‘n boek Afrikaans: Ons Pêreld van groot waarde van die FAK aan die toer oorhandig.

“Vanuit die ou Goewermentsgebou wat vanjaar sy 150ste verjaardag vier, stuur Naln en die Vriende van Naln ondersteuning en mooi wense saam met Solidariteit se Afrikaans Amptelik 100-lettertoer,” het sy aan Carien Bloem, hoof van onderwysprojekte by AfriForum en projekleier van die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer gesê.

Besoekers kon hul liefde vir die taal oordra. Hier is Marisa en Gerdré Kruger se spruite Rohan (5) en Gerhard (2) op besoek in Bloemfontein. Foto: Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

Die toer het vanmiddag net voor 14:00 in Bloemfontein aangekom en het later vertrek na Gariepdam waar die groep vanaand oorstaan.

Hul eindbestemming is die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl waar die amptelike feestelikhede ter viering van 100 jaar van Afrikaans as amptelike landstaal op 8 Mei sal begin.

Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer doen op sy pad uit die noorde by bestemmings aan waartydens inwoners, vakansiegangers en alle belangstellendes hul verjaarsdagwense vir Afrikaans kan kom aflewer én dié reusekunswerk kan besigtig.

Die nege letters staan elk sowat 2 m hoog en het ’n gesamentlike gewig van nagenoeg 720 kg. ’n Letter is aan die Afrikaans Amptelik 100-oorsigkomitee sowel as agt instellings van die Solidariteit Beweging toegeken en elkeen is die afgelope week met unieke ontwerpe, eie aan die onderskeie instellings, versier. Elkeen van hierdie instellings maak in hul veld ’n belangrike bydrae tot die groei en voortbestaan van Afrikaans en beeld hul ywer vir die taal op ’n kunstige wyse uit op hierdie reuseletters. Dié instellings is AfriForum, Solidariteit, Maroela Media, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Sol-Tech, Akademia, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Helpende Hand.

Volgens Bloem sal die kunswerk vir die duur van die Afrikaans Amptelik 100-feesvieringe, wat van 8 tot 11 Mei plaasvind, op uitstalling wees by die Afrikaanse Taalmonument. Daarna sal dit weer na die noorde van die land geneem word om – net betyds vir die noordelike been van die fees wat vanaf 22 Mei in Pretoria gehou word – ’n meer permanente staanplek in die skadu van die Voortrekkermonument te kry.

Rodé Ellis en haar seun Chris-Tiaan (5) het ook hul ondersteuning kom wys. Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

“Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer toon op ’n simboliese wyse dat Afrikaans behoort aan almal wat haar in die uithoeke van ons mooi land praat, sing, skryf, studeer, lees en waarlik lééf! Te midde van die uitdagings wat die taal ondervind, kan ons hierdie mylpaal in die kleurryke bestaan van Afrikaans met volle oorgawe vier,” sluit sy af.

Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer sal op die reis na die Paarl vir nagenoeg ’n uur en ’n half by die volgende vulstasies aandoen:

Vrydag 2 Mei

  • 09:00: Engen 1 Stop Swartberg (Beaufort-Wes)
  • 13:00 Engen 1 Stop Lainsburg

You need to be Logged In to leave a comment.