Aksie, aksie, aksie by Buite Ekspo 2016!

Hierdie naweek, van 12 tot 14 Februarie, vind die elfde kykNET Buite Ekspo by Môreson plaas, net 10km buite Malmesbury langs die N7 oppad Kaapstad toe.


Hierdie naweek, van 12 tot 14 Februarie, vind die elfde
kykNET Buite Ekspo by Môreson plaas, net 10km buite Malmesbury langs die N7 oppad Kaapstad toe.

Die uiters gewilde kykNET Buite Ekspo (Wes-Kaap) is vir die eerste keer in Februarie 2014 by Môreson aangebied en dit was ’n reuse-sukses.

Verlede jaar het bykans 15 500 besoekers dit bygewoon en die organiseerders se stoutste verwagtinge oortref! Weens die gewildheid van die konsep word dit ook jaarliks in Limpopo naby Warmbad (Bela Bela) aangebied. In September verlede jaar het meer as 18 500 mense dié ekspo besoek.

Trio Events is die aanbieder en organiseerder van die ekspo en die borge sluit in kykNET (hoofborg), Campworld, Olof Bergh, Swartland-munisipaliteit, Jimmy’s Steakhouse Sauces, Agrimark, Ford SA, Lazarus Ford Malmesbury en die Wes-Kaapse regering. Die mediavennote is TygerBurger, Tygerberg 104FM, Weg, Swartland Gazette en Die Courant.

“Sonder hierdie senior vennote sou die ekspo nie moontlik gewees het nie,” sê Marius Opperman van Trio Events.

Trio Events het vanjaar ook besluit om ’n splinternuwe liefdadigheidsorganisasie, die Breyton Paulse Foundation te ondersteun wat dan ook op terrein sal wees gedurende die ekspo. Hulle sal met die Tag Rugby Association saamspan om die Saterdag op ’n ‘Tag Rugby’-kliniek en -kompetisie aan te bied met Breyton Paulse wat ook teenwoordig sal wees.

“Daar word beoog om hierdie jaar 16 000 plus besoekers te lok na hierdie geleentheid. Die ekspo is hoofsaaklik gemik op buitelewe- en relevante uitstallings en beloof om die nuutste in hierdie veld aan die besoeker te bied,” sê Marius.

Uitstallers bly dan ook die heel naweek op hul uitstalterreine en rig hulself so in dat die publiek eerstehands kan ervaar hoe die produkte funksioneer sou hulle dit aanskaf en self gebruik.

Alle uitstalareas het maklike toegang tot krag, water en badkamergeriewe.

Tesame met die uitstallings word daar ook lekker pret aktiwiteite aangebied vir die hele gesin – André de Villiers van Safari 4×4 Roetes bied gratis Amarok 4×4-ritte aan; dan is daar ook veldrenritte en helikopterritte om maar ’n paar te noem.

Nog ’n eerste vanjaar is die “quad”- en motorfietsvertonings wat deur die Western Cape Off-Road Club aangebied word.

Daar word ook ’n groot Jimmy’s Steakhouse Sauces “celeb braai pie”-kompetisie aangebied waar die publiek kan braai saam met bekende kykNET-sepiesterre.

Agrimark en Lasher bied ’n baie unieke DIY-kompetisie aan en die jongspan moet seker maak om ook aan die Bulletjie Braaier-kompetisie te kom deelneem, waar kinders geleer word om veilig vuur te maak en te braai.

Die bekende Johan Badenhorst sal ook by die ekspo wees as gas van een van die uitstallers, Live the Journey en gedurende die loop van Vrydagmiddag sal hy praatjies aanbied met die tema “Op reis met Johan Badenhorst deur Afrika en Ysland”.

Spesiaal vir die vroue is daar ’n groot deli-en-kunsmark wat beloof om baie interessant te wees.

Moet ook nie die teetuin mis met van die beste koffie, tee en varsgebakte produkte nie.

Mothercity Skydiving gaan gedurende die Saterdag en Sondag vryval- en valskermtentoonstellings demonstreer en Heinz Winckler en Charl “Braai” Bruwer van Braai Ve’Notes is vanjaar by die Buite-Ekspo met hulle uitstalling van die revolusionêre EC Braai waarop hulle lip-lek-lekker braaigeregte met Kokkedoor-eregas Le Roux van Vuuren gaan maak.

Jy sal ook by hulle kosstalletjie kan aanklop vir ’n heerlike maaltyd.

Heinz gaan die Saterdagmiddag op die verhoog wees met sy grootste treffers, en Sondagoggend bied hy ’n spesiale “Bid vir Reën, Ons Boere en Ons Land”-sessie aan.

Besoekers hoef ook nie bekommerd te wees dat hulle gaan honger of dors raak nie, want daar is talle gekeurde kosverskaffers om in almal se smaak te voorsien!

Tesame met die wyntuin is daar ook ’n ruim Olof Bergh-kroeg en Savanna “cidertuin”.

Die kykNET Buite Ekspo is nie ’n musiekfees nie, maar Olof Bergh borg die verhoog met ’n paar uitstekende kunstenaars: Heinz Winckler, Die Broers, Amore, Nadia Louw, Hugo Nieuwoudt, Henning Joubert, Demi-Lee Moore asook Sam en Calla wat dan die publiek sal vermaak as een van die aktiwiteite by die kykNET-hoofarena terwyl daar lekker afgekoel en gekuier word nadat die uitstallers besoek is.

Hierdie jaar borg ATKV ook die ATKV Crescendo in Konsert by die ekspo – weer eens iets nuut op die program.

Bring gerus die kinders saam – daar sal genoeg wees vir hulle om te doen by die pretpark, terwyl Ma en Pa die uitstallings geniet!

Maak ook seker om nie die Sondag die Lollos-vertoning te mis nie.

Daar is nog ’n paar uitstalgeleenthede vir buiteleweprodukte beskikbaar. Kontak vir Marius by marius@ekspo.co.za of 082 570 5758 vir meer inligting of besoek die webwerf www.ekspo.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.