Die burgerregte-organisasie AfriForum het `n aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof gebring om duidelikheid te kry oor die wettigheid van die Stad Kaapstad se nuwe tariefmodel, wat in die 2025-’26-begroting toegepas word.
Volgens die organisasie hou die gebruik van eiendomswaardasies as basis vir water- en sanitasietariewe, asook die herstrukturering van die Metro se elektrisiteitstariewe sonder die nodige kostestudie, `n ernstige nadeel vir die Moederstad se huiseienaars in.
In hofstukke voer AfriForum ook aan dat die bepaling van die nuwe water-, sanitasie- en skoonmaaktariewe op grond van eiendomswaarde nie strook met die Grondwet of die munisipale wetgewing nie, en ook dat die Stad nie by magte is om dié metode te gebruik om tariewe vas te stel nie.
“Met persoonlike kennis en uit eie perspektief en ervaring as inwoner het ek breë kennis van die omstandighede van die mense van Kaapstad op alle vlakke van die samelewing. Dit sluit in die uitdagings ten opsigte van die stygende lewenskoste, veral dié wat veroorsaak word deur stygende munisipale koste, sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder van AfriForum in die voorlegging aan die hof.
Nuwe modelle moet ondersoek word
Volgens AfriForum erken die organisasie dat die Stad Kaapstad wêreldklasdienste aan inwoners lewer en dat die Stad ook groot deursigtigheid getoon het deur kostestudies volledig beskikbaar te stel.
“Ons betwyfel nie die stad se verbintenis tot goeie dienslewering nie. Dit is belangrik dat munisipale bestuur innoverend dink en nuwe modelle ondersoek. Ons standpunt is egter dat die huidige model nie in ooreenstemming is met die wetgewing nie. Daarom vra ons dat die hof die wet duidelik interpreteer sodat daar sekerheid is oor die pad vorentoe,” sê Morné Mostert, portefeuljebestuurder van plaaslike regering by AfriForum.
AfriForum beklemtoon dat tariewe redelik en billik moet wees, en dat verbruikers `n regstreekse weerspieëling van die werklike koste van voorsiening moet betaal en nie ekstra bloot op grond van eiendomswaarde nie. Die organisasie wys daarop dat die nuwe strategie deel is van ’n groter meerjarige plan en dat sommige van die Stad se beleidsraamwerke waarskynlik aangepas sal moet word.
AfriForum vra die hof om te verklaar:
– Dat die Stad Kaapstad geen ander heffing of fooi aan eiendomswaardasies mag koppel nie, behalwe dié wat deur die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting voorgeskryf word.
– Om te verklaar dat die drie tariewe strydig is met die Grondwet en die beginsel van wetlikheid in soverre dit op eiendomswaardasies gebaseer is.
– Om die verklaring van ongrondwetlikheid op te skort tot 30 Junie 2026, wat die einde van die huidige boekjaar is.
– Dat die Stad AfriForum se regskostes betaal.
“Afriforum sal toesien dat die wet gerespekteer word en dat inwoners in die Kaapstad-metro beskerm word deurdat tariewe regverdig en wetlik bepaal word. Dit gaan vir ons oor regverdigheid, deursigtigheid en die beskerming van belastingbetalers se belange,” sluit Mostert af.





