Afgetredene van Bellville maak Barbie-rokke vir minderbevoorregte kinders

Met mooi materiaal en baie bling ontwerp en maak Hannelie Lourens van Bellville die allerfraaiste Barbie-klere, wat sy dan verkoop om geld in te samel vir Shiloh Synergy, ’n nie-winsgewende organisasie in Brackenfell.


Met mooi materiaal en baie bling ontwerp en maak Hannelie Lourens van Bellville die allerfraaiste Barbie-klere, wat sy dan verkoop om geld in te samel vir Shiloh Synergy, ’n nie-winsgewende organisasie in Brackenfell.

Met die unieke stokperdjie dra sy daartoe by om ’n verskil te maak in die lewens van baie minderbevoorregte kinders in die Wes-Kaap.

Hannelie het, toe sy net 10 was, begin naaldwerk doen toe sy haar eerste Barbie-pop gekry het.

“Ek het vir myself begin klere maak toe ek 20 was en daarna meeste van my eie klere gemaak. Toe ek in 2016 afgetree het, het ek besluit om my talent vir naaldwerk tot ander mense se voordeel aan te wend. Ek het aanvanklik kinderklere gemaak en aan Shiloh geskenk, maar dit het my nie werklik geïnteresseer nie,” sê sy.

Maar in 2019 het die gogga haar gebyt toe sy vir haar suster se dogtertjie Barbie-klere as geskenk gemaak het.

Daar is ’n ontwerp vir elke seisoen.

Barbie hou van haar bling.

“Ek het geweet dis presies waarmee ek voortaan my dae wil vul. Ek moes toe net ’n manier vind om Barbie-klere te maak en steeds my medemens te dien. Nadat ek die saak oordink het, het ek besluit om die klere te verkoop en die opbrengs aan Shiloh te skenk.”

As bibliotekaris maak Hannelie ’n intensiewe studie van alles wat haar interesseer. “So het ek inligting oor Barbie-klere op die internet bestudeer en afgekom op die realistiese styl waarin baie mense hul poppe klee. Op Barbie se skaal is dit ’n kunsvorm om die pop soos ’n mens aan te trek en te stileer. Ek kon my kreatief uitleef, terwyl dit my uitgedaag het om aan my vaardighede te skaaf,” sê sy.

Dat sy reeds klere kon maak, het natuurlike gehelp met patroonontwerp en-konstruksie.

Maar kennis van “mensklere”, sê sy, is nie genoeg vir Barbie se skaal nie, en sy het by talle Facebookgroepe aangesluit om die fynere tegnieke te leer van Barbie-klere maak.

Hannelie was reeds as ’n kind in die jongste modes geïnteresseerd en het plakboeke gemaak om die modes deur die jare te vas te vang.

“Ek sou graag modeontwerp wou studeer, maar daar was destyds in die jare sewentig nie so baie instansies wat voltydse intensiewe kursusse in modeontwerp aangebied het soos nou nie, so ek het in ’n akademiese rigting gegaan. Ek kan my egter nou uiteindelik op een sesde van die skaal as modeontwerper uitleef. Elke uitrusting het sy eie uitdagings, so ek bly leer en raak dus nie verveeld nie.”

Delene Kleyn van Shiloh Synergy sê nie net is hulle dankbaar vir haar nie, maar bewonder haar talent, toewyding en deursettingsvermoë.

“Ons het die voorreg gehad om Hannelie ’n paar jaar gelede te leer ken toe sy ons hoofkantoor in Brackenfell besoek het.

“Sy maak verstommende uitrustings. Sy is voorwaar ’n voorbeeld vir die wat ’n verskil in ander se lewens wil maak.”

Met hul kosprojek verskaf die organisasie sowat 60 000 etes per maand.

You need to be Logged In to leave a comment.