Van hoe hy danksy die sameloop van omstandighede ’n beurs bekom het om sy droom om ’n veearts te raak, verwesenlik het tot hoe hy ’n G-string uit ’n Yorkie se ingewande verwyder het, is van die vertellings in die boek wat ’n geliefde, afgetrede veearts van Durbanville in sy boek deel.
Dr. John Adam (76), wat 53 jaar lank as veearts gepraktiseer het – waarvan meer as 40 jaar by die Tygerberg-dierehospitaal (TAH) in Durbanville, het in Desember ’n boek oor sy wedervaringe, The wild and the wonderful, uitgegee.
Sy liefde vir diere het reeds as jong kind ontstaan toe hy vakansies op ’n familieplaas in Mpumalanga deurgebring en met beeste, skape en perde grootgeraak het.
“Vandat ek vyf, ses jaar oud was, wou ek net een ding doen: ek wou ’n veearts word,” vertel hy aan TygerBurger in sy huis op die plaas Occultdale buite Durbanville, waar hy en sy vrou, Lynette, woon.
Versot op diere
“Ek was so versot op diere dat ek van kleinsaf die Farmer’s Weekly gelees het.” Hy was net tien jaar oud toe hy as dié landboutydskrif se jongste leser ’n gratis intekenaarskap gekry het.
Maar toe hy in matriek kom, was daar nie geld vir verdere studies nie. Daar was ’n klein beriggie in die koerant The Star oor ’n beurs in veeartsenykunde, waarvoor hy aansoek gedoen het en die beurs losgeslaan het.
“Sonder die Saafa-beurs en die vrygewigheid van my borge sou ek nooit ’n veearts kon geword het nie. Vyf baie moeilike jare op Onderstepoort in Pretoria met baie opofferings het uiteindelik gelei tot die dag van my laaste eksamen en toe eers het die werklikheid ingesink dat ek nou ’n veearts is. Miskien was dit die hoogtepunt in my lewe; dit het soveel deure oopgemaak,” vertel hy.
Hy moes daarna as deel van sy beursverpligtinge as staatsveearts in Stellenbosch gaan werk.
“Dit was wonderlike jare met nuwe uitdagings en lesse elke dag, maar die goeie opleiding wat ek as student gehad het, het gehelp om al die probleme op te los.
“Ek was gelukkig om gou ’n werk in ’n privaat praktyk te kry as ’n veearts-assistent op Stellenbosch en het baie spesiale herinneringe van my jare op dié dorp.”
Hy het daarna ’n vennoot geraak in Ceres, en later by TAH in Durbanville. Sy stories handel ook oor gebeure terwyl hy in Wallis en Engeland as lokum gewerk het. Die boek is in Desember verlede jaar deur Boutique Books uitgegee.
Fisantekraal Animal Welfare
“Die boek is vol stories oor snaakse gebeure, maar ook oor aangrypende en hartseer gebeure. Wie sal die kat vergeet wat ophou urineer het in die huis nadat die kat se eienaar daaroor gebid het? Of die bul wat sy eienaar se nuwe bakkie verinneweer het?”
In die hoofstuk “The joys of serving those in need” vertel hy stories van hoe mense met min besittings en geld alles sal gee vir hul troeteldiere.
“Dit is ‘n wanpersepsie dat arm mense hul diere mishandel. Ek erken dat daar wel gevalle is waar diere mishandel word, maar dis belangrik dat kinders opgevoed word om diere te koester en te versorg,” sê hy.
“Die Fisantekraal Animal Welfare (FAW) doen baie goeie werk vanuit hul dierekliniek in Fisantekraal – nie net om siek diere te behandel nie, maar ook die mense van alle ouderdomme op te voed in die regte sorg vir hul troeteldiere veral deur inentings teen siekte, asook die regte voeding,” sê hy.
Daarom dat hy besluit het om ’n deel van die inkomste uit sy boek aan dié dierewelsynorganisasie te skenk.
Adam het sowat tien jaar gelede afgetree, maar hou hom steeds besig met kliniese werk, onder meer praktykondersoeke vir die SA Veeartsenyraad.
Lekker stories
Dis met sy aftrede dat hy besluit het om ’n boek te skryf oor sy wedervaringe en so twee, drie skryfkursusse by die Universiteit van Kaapstad gevolg het.
“Ek het sulke lekker stories gehad om te vertel. Ek wil met die boek ook wys hoe lekker die beroep is. Die slotsom is egter dat ’n veearts nie net met diere werk nie, maar veral ook met die diere se eienaars. Veeartse moet ook daarvan hou om met mense te werk,” sê hy.
Sy liefde vir diere leef hy steeds uit met hul twee honde en Sharky, hul bekkige African Grey-papegaai.
’n Klein beseerde valkie wat hy sowat drie jaar gelede uit die honde se kake gered en laat behandel en aansterk het, kom steeds elke jaar met ’n lang fluit groet voor sy trek na die noorde. “As ek vir hom fluit, fluit hy terug!”
Sy liefde vir diere het hy ook aan sy kinders oorgedra. Sy dogter (44) is ’n veearts in Stockholm in Swede, terwyl sy seun (42) ’n veearts op Darling is. Sy oudste dogter (46) is ’n modeontwerper met haar eie klerereeks Harlow and Summer in Kaapstad.
Die boek word verkoop by TAH Bellville en Aurora Books by die Ipic Aurora-winkelsentrum in Durbanville. Kontak die boekwinkel by 082 355 5817 of info@aurorabooks.co.za.
Mense wat die boek wil koop, kan dr. John Adam by jadamvet@outlook.com kontak.